VEREENIGING. – ‘n Man het verlede Dinsdag eers sy 13-jarige seun en skoonma doodgeskiet voordat hy ook sy eie lewe beëindig het.
Gert Cornelius Oosthuizen (50), het op 5 Junie omstreeks 17:30 in Oosthuizenstraat, Sonlandpark, sy skoonma Sue Erasmus (69) en sy seun Etienne (13) doodgeskiet.
Volgens kapt. Fikile Funda, woordvoerder van die Vereeniging SAPD, het Gert se suster op die liggame afgekom.
Sy het glo haar broer besoek om te kyk of alles reg is, nadat hy nie telefonies bereik kon word nie. Toe sy by die huis aankom was die hek gesluit en moes sy bo-oor die hek klim. Sy het met groot skok op die lyke afgekom. Die vuurwapen is langs Gert se lyk gevind. Sue is in die badkamer gevind, en Etienne in ‘n slaapkamer. Die drie oorledenes se verassingsdiens is reeds Maandag, 11 Junie gehou.




