HealthLifestyleLocal newsNews

‘Almal moet weet wonderwerke gebeur steeds,’ sê ouma

Baba Ethan was blou en leweloos nadat hy byna 'n halfuur sonder suurstof was. Die kanse vir breinskade was groot en dokters het min hoop gehad dat die seuntjie sou bly lewe.

 
Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Op 14 Mei, na die geboorte van klein Ethan Bekker in die Johan Heyns-kliniek, was daar min hoop dat die seuntie sou leef. En as hy sou leef, sou hy waarskynlik uitgebreide breinskade hê. Dit was die mediese opinie nadat Ethan tydens die geboorteproses byna ‘n halfuur sonder suurstof was.

Die kleinding se ma, Denise, was lank in kraam voordat haar eersteling se koppie gekroon is.

Die mediese personeel het egter dadelik besef dat die naelstring drie maal om sy nekkie gedraai was, wat die geboorte vertraag het.

Hy was reeds blou en heeltemal leweloos toe die geboorte eers 25 minute later afgehandel is.

Die mediese personeel het dadelik hartmasering en kunsmatige asemhaling begin toepas.

Ethan se hartjie is aan die klop gekry en hy het uiteindelik begin asemhaal, maar dit was net die begin van verdere probleme.

Hy het skielik die een na die ander epileptiese aanval gekry.

“Klein Ethan is dadelik na die Sebokeng-hospitaal se neonatale waakeenheid vervoer, maar dokters het min hoop vir hom gehad. Hulle het gereken dat as hy gaan bly leef, hy ernstige breinskade sou oorhou,” sê sy ouma, mev. Doret Steyn van Vanderbijlpark.

Die volgende week was ‘n beproewing vir die gesin. Ethan het steeds epileptiese aanvalle in die hospitaal gekry en was vol aarvoeding- en dreineringsbuise.

Hy kon nog nie self suig en drink nie en sy ma moes elke paar uur borsmelk uitpomp en lepeltjie-vir-lepeltjie uit ‘n beker vir hom ingee.

Die mannetjie het egter gou bewys dat hy ‘n ware vegtertjie is. Sy toestand het stadig maar seker verbeter en danksy die medikasie wat sy epileptiese aanvalle moes voorkom, het dié ook verminder. Nou,  ‘n maand na sy geboorte, is Ethan uit die hospitaal ontslaan en maak uitstekende vordering by ma Denise en pa Brian.

“Jesus het Ethan uit die dood gehaal en hom ten volle genees. Die toetse wat die afgelope weke gedoen is, toon dat hy geen breinskade oorgehou het nie en dat alles heeltemal normaal is. Die aanvalle het ook heeltemal gestop. Die dokters staan verstom,” sê sy dankbare ouma Doret.

“Ek glo die mediese personeel is as instrumente gebruik om hierdie wonderwerk te laat plaasvind, maar Jesus was die ware Geneesheer. Ek wil ons blydskap en dankbaarheid van die dakke af uitbasuin.

“Ek wil hê almal moet weet dat wonderwerke steeds gebeur, al raak ‘n mens moedeloos en ongeduldig,” sê sy.

Sedert die kleinding se traumatiese geboorte is talle gebedskringe begin om vir sy herstel te bid. Sy familie bedank graag almal wat daaraan deelgeneem het, sowel as die medici wat hom met groot toewyding behandel het.

Ethan se geboorte was nie die enigste wat met drama vir die familie gepaard gegaan het nie.

Slegs twee weke na sy geboorte het mev. Steyn se dogter ook onverwags in die bad geboorte aan ‘n seuntjie, Cagen, gegee. Die mamma en baba is inderhaas vir waarneming in die hospitaal opgeneem, waar albei in piekfyn toestand verklaar is.

 

FOTO: Ethan is nou tuis by sy ouers en bekyk die wêreld reeds met wakker ogies.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button