Local newsNews

Geliefde oud-tandarts langs sy vrou begrawe

Familie en vriende het Maandag, 11 Junie, hul laaste eer bewys aan wyle dr. Peet Naudé, toe hy langs sy oorlede vrou, Gerda, in Sasolburg se begraafplaas begrawe is.

 
Retha Fitchat

SASOLBURG. – Familie en vriende het Maandag, 11 Junie, hul laaste eer bewys aan wyle dr. Peet Naudé, toe hy langs sy oorlede vrou, Gerda, in Sasolburg se begraafplaas begrawe is. Dr. Naudé, wat ‘n inwoner van Ons Gryse Jeug was, het op 4 Junie onverwags in sy slaap gesterf.

Hy het byna 50 jaar gelede as tandarts in die dorp begin praktiseer en deur die jare saam met sy vrou diep spore op die gebied van gemeenskapsdiens in Sasolburg getrap.

“Ons was inderdaad bevoorreg om hulle as ouers te hê,” sê hul seun, Gerrit.

Dr. Naudé het eers ‘n jaar vrywillig by die Lugmag aangesluit voordat hy in die tandheelkunde gaan studeer het. Die Naudé-egpaar het mekaar in die middel van die 1960s as studente in Pretoria, albei se geboortestad, ontmoet.

Die paartjie is in 1967 getroud en het gedurende 1969 na Sasolburg verhuis waar dr. Naudé ‘n betrekking as tandarts by Sasol aanvaar het. Hy het in 1988 sy eie praktyk in NJ van der Merwesingel geopen, waar hy ‘n huis in die Sasolburg Tandheelkunde Sentrum omskep het. Hy was tot met sy aftrede in 2013 by die sentrum betrokke.

Gerda, wat ‘n meestersgraad in kliniese psigologie gehad het, was jare lank ‘n maatskaplike werker in die dorp en ook dosent in psigologie aan die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus.

Vaalweekblad se redaksielede, wat deur die jare ‘n noue band met haar gehad het, sal haar onthou vir haar selfopofferende werk in die gemeenskap, waar sy Vaalweekblad ook gereeld agter die skerms bygestaan het om hulp aan Sasolburgers in ernstige nood te verleen.

Sy het op 27 Augustus 2015 op die ouderdom van 68 weens pulmonêre embolisme in die Vaalpark-hospitaal gesterf. Net soos haar man, drie jaar later, is sy ook in haar slaap oorlede.

“Ons dank die Here vir die rustige wyse waarop hy albei ons ouers geneem het,” sê Gerrit.

“Ons sal my pa veral onthou vir sy omgee, troue sorg en meelewendheid as pa en oupa. Sy lewe het om sy geliefdes gedraai. Opreg soos kan kry. Ons sal hom ook onthou vir sy uitmuntende humorsin, sy hardwerkendheid en deursettingsvermoë. So het hy byvoorbeeld die Comrades vir die eerste keer op 50-jarige ouderdom aangepak en voltooi – en weer twee keer daarna,” sê Gerrit.

Dr. Naudé word buiten Gerrit ook oorleef deur sy seun Wim wat in die buiteland woon en werk, en sewe kleinkinders.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button