Met goud in die sak mik Lafras nou vir Tokio
In 2006 was Lafras Uys ‘n uithaler-atleet van die Laerskool Kollegepark, vir wie ‘n blink toekoms voorspel is.... totdat hy in 'n ernstige ongeluk betrokke was wat sy hele lewe verander het
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – In 2006 was Lafras Uys ‘n uithaler-atleet van die Laerskool Kollegepark, vir wie ‘n blink toekoms voorspel is. Kenners het selfs gereken dat dié 12-jarige knaap genoeg talent het om eendag ‘n Olimpiese langafstandatleet te word.
Dié drome het egter op 21 Januarie daardie jaar in skerwe gespat toe hy in ‘n ernstige ongeluk betrokke was. Dokters het aan sy ouers gesê dat slegs gebed Lafras se lewe kon red.
Lafras het die betrokke Saterdagmiddag saam met sy broer en pa, ds. Lukas Uys van die Evangelies Gereformeerde Kerk, in Generaal Fronemanstraat, SE7 gaan draf toe hy deur ‘n motorfiets getref is. In die waakeenheid van die hospitaal moes Lafras se ouers hoor dat sy skedel op soveel plekke gekraak was dat dit “soos ‘n padkaart” gelyk het. Sy lewe het aan ‘n draadjie gehang. Gebed was al wat hom kon red, het dokters aan sy ouers gesê, want daar was in daardie stadium niks meer wat hulle vir hom kon doen nie. Selfs as hy sou bly leef, was die prognose nie goed nie. Hy sou na verwagting vir die res van sy lewe breingestremd en verlam wees.
Sy ouers, familie en vriende se gebede is verhoor en Lafras het bly leef. Dokters, sielkundiges en arbeidsterapeute het egter die slegte nuus aan sy ouers gegee dat hy nooit weer akademies sou kon presteer of skool sou kon klaarmaak nie. Ondanks dié voorspelling kon Lafras ses maande later sy skoolloopbaan by Kollegepark hervat, en in 2011 sy matriek aan die Hoërskool Driehoek voltooi.
“Ja, ek het newe-effekte van die ongeluk oorgehou, maar op ‘n wonderlike manier is ek nie verlam nie en het ek nie ‘n ledemaat verloor nie,” sê Lafras, vandag ‘n 25-jarige student. “Ek sukkel wel met my balans en koördinasie en kan byvoorbeeld nie op ‘n reguit lyn loop of lank op een been staan nie. Omdat my brein ‘stadiger’ is weens die destydse harde stamp en die bloeding op my brein, neem dit my langer as vir ander mense om te studeer,” verduidelik hy.
Hy het almal verras toe hy na skool eers ‘n paar jaar in die buiteland gaan deurbring het en daarna ‘n B.Com-graad in menslike hulpbronbestuur voltooi het. Hy is tans besig met sy nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) en begin volgende kwartaal by ‘n laerskool in Vanderbijlpark werk.
Atletiek het deur die jare sy passie gebly. “As kind was dit my droom om Olimpiese Spele toe te gaan maar na die ongeluk moes ek dié droom ‘n tyd lank begrawe. Ek het verlede jaar weer begin oefen en het vanjaar by die Nasionale Kampioenskap vir Gestremdes goud gevat in die 800m in my klas (T36).”
Terwyl hy en sy meisie op ‘n dag, so nege maande gelede, by die Isak Steyl-stadion geoefen het, het hulle die bekende afrigter en atleet, Norman Dhlomo, gesien terwyl hy besig was om ‘n oefengroep af te rig.
“My meisie het my aangemoedig om met Coach Norman te gaan gesels en te vra of ek saam mag oefen. Coach Norman het my ingeneem maar my gewaarsku dat hy my soos al sy ander atlete gaan afrig: Geen sagte behandeling nie. En ek verbeter elke dag,” sê Lafras.
“Coach Norman leer my om geduldig te wees. As atleet wil ‘n mens altyd goeie tye opstel maar dit is nie altyd moontlik nie. As ek ‘n tyd gekry het waarmee ek nie tevrede is nie, sê hy altyd ek moet nie oorhaastig wees nie. Hy sê altyd ‘your time will come’, en dat daar nie kort paaie na sukses is nie. ‘n Mens moet geduldig wees en dit tree vir tree vat, al is dit babatreë.”
Die atlete wat saam met Lafras oefen is nie para-atlete soos hyself nie, maar sogenaamde “able bodies” wat hom druk om by hulle te bly. Dit sluit uitmuntende atlete in soos Pita Makhoadi, ‘n marathonatleet, en Mosa Lehoko en Morena Tsotetsi, wat sy oefenmaats is.
Lafras se droom is om in 2020 aan die Paralimpiese Spele in Tokio deel te neem en hy oefen tans hard daarvoor om dié mikpunt te bereik.
“Ek wil my passie uitleef en dit is om ‘n verskil in mense se lewens te maak, veral in die lewe van kinders by die skool waar ek gaan werk. En om dit wat die Here vir my gedoen het, te gaan vertel om so ook iemand anders te bemoedig wat deur ‘n moeilike tyd gaan,” sê Lafras.
* Lafras moet self sy deelname aan groot byeenkomste befonds. Enigiemand wat graag ‘n bydrae hiervoor wil maak, kan Lafras skakel by 081 377 6726, of Coach Norman by 072 295 4175.






