Checkers-bestuurder sterf in botsing
Darren, ‘n groot motorfietsgeesdriftige, was baie bekend onder lede van plaaslike motorfietsklubs.
Retha Fitchat
VEREENIGING. – ‘n Botsing tussen ‘n motorfiets en ‘n Kia Rio het Sondagaand, 1 Julie, die lewe van mnr. Darren Brüll, administratiewe bestuurder (Back Admin Manager) van Checkers Riverwalk, geëis.
Die ongeluk het die aand omstreeks 18:30 op die hoek van Houtkop- en Van Riet Louwweg plaasgevind, maar die presiese oorsaak is nog nie bekend nie.
Twee lede van die Vaal Response Unit (VRU) het gehelp om die verkeer te reguleer terwyl die Emfuleni-brandweer en patologie-span aandag aan die ongelukstoneel gegee het.
ER24 was ook op die toneel maar kon niks verder vir die noodlottig beseerde Darren doen nie. Hy is op die toneel dood verklaar.
Darren, ‘n groot motorfietsgeesdriftige, was baie bekend onder lede van plaaslike motorfietsklubs. Verskeie motorfietsryers van die Vaaldriehoek, wat kort na die ongeluk daarvan gehoor het, het op die toneel opgedaag om te kyk of hulle hulp kon aanbied.
Personeel van Checkers Riverwalk wou Maandag nie amptelik kommentaar lewer nie en het Vaalweekblad na Checkers se hoofkantoor in die Kaap verwys, wat bevestig het dat Darren in ‘n botsing gesterf het terwyl hy van diens af was. Hy het in Augustus 2013 as leerling-bestuurder by Checkers aangesluit en is in Desember 2015 tot sy huidige pos bevorder.
‘n Personeellid van Checkers Riverwalk het Dinsdag nie-amptelik aan Vaalweekblad gesê Darren was baie gewild onder sy kollegas en dat hy geweldig gemis gaan word.
“Die meeste van ons ly nog aan skok en probeer gewoond raak aan die idee dat hy nooit weer hier gaan wees nie. Ons probeer so gou as moontlik orde in ons emosionele chaos bring, want hoewel ons harte stukkend is, moet die werk voortgaan,” het ‘n kollega gesê. Darren, oorspronklik van Alberton, se familie was ten tyde van sy ongeluk met vakansie in KwaZulu-Natal maar was Maandag reeds op pad terug Gauteng toe nadat hulle die skoknuus oor sy dood ontvang het. Hulle kon nog nie deur Vaalweekblad vir kommentaar bereik word nie en is volgens ‘n familievriend nog te erg getraumatiseer om met die media te praat.





