HealthLifestyleLocal newsNewsNews

‘n Koor wat jy moet hoor!!

‘n Koor wat jy moet hoor!!

VANDERBIJLPARK. – Die Hoërskool Driehoek koor het die voorreg gehad om in Julie hierdie jaar deel te kon neem aan Interkultur se Internasionale Koorolimpiade in Tswane.

Dit is die tiende jaar dat hierdie olimpiade aangebied word en word gebasseer op olimpiese ideale. Die olimpiade vind elke tweede jaar op ‘n ander kontinent plaas. Dit is by verre die grootste koorkompetisie ter wêreld. Suid-Afrika was gelukkig om die olimpiade hierdie jaar te kon huisves. Dit was die eerste keer dat die olimpiade op Afrika bodem plaasgevind het. Meer as 300 kore, van 62 lande het die geleentheid gehad om die Suid-Afrikaanse atmosfeer en gees van Afrika te ervaar. Veral China, Rusland en Griekeland was goed verteenwoordig. Meer as 16 000 koorlede het met mekaar gekuier, geskenke uitgedeel en menswees geniet.

Een van die olimpiade se standpunte sê dat om saam te sing, nasies bymekaar kan bring. Dit was duidelik sigbaar en ervaar tydens hierdie olimpiade. ‘n Glimlag is nie net gratis nie, maar het mense van klomp lande, met klomp kulture en klomp tale, nader aan mekaar getrek.

Daar was twee afdelings in die olimpiade gewees. Die kampioene kompetisie, en dan die ope kompetisie waaraan Hoërskool Driehoek se koor deelgeneem het. Die koor het gekwalifiseer op grond van ‘n DVD wat gedurende September 2017 aan die organiseerders gestuur is.

Na maande se harde en geduldige oefening met die hulp van Me. Aryna Mynhardt en Mnr. Wessel Jacobs, het die praggeklede koorlede die verhoog op 7 Julie 2018, by die asemrowende Z K Matthews saal by UNISA, betree. Onder begeleiding van Me. Dalien Ahlers het die koor die volgende liede gesing. “How great His love” verwerk deur Ruth Schram, “Silent night/Away in a manger” verwerk deur Joe Riley, “African Psalm” verwerk deur Victor Johnson en “Kersliedjie” ‘n gedig van D J Opperman en getoonset deur Dalien Ahlers.

Hoendervleismooi was dit, en die gehoor asook die beoordelaars het luidelik hande geklap en die koor toegejuig. Die resultaat van die koor se optrede was nie net te vinde in die luide applous nie, maar ook in die uitslag van die koor se optrede.

Hierdie jong koor spog vandag met ‘n Silwer Vlak III toekening in die “Music of Spirit and Faith” afdeling. Dit is ‘n prestasie waarop Hoërskool Driehoek baie trots is, aangesien dit die eerste keer is dat die skool aan so ‘n olimpiade deelneem. Vir die res van hierdie jaar neem die koor deel aan die plaaslike kunswedstryde, en is almal welkom om na die koor te kom luister.

Die volgende Internasionale Koorolimpiade vind plaas in Vlaandere in 2020. Dit sal wonderlik wees as Hoërskool Driehoek deur hul koor verteenwoordig sou kon word. Almal wat belangstel om deel van die koor te wees, kan volgende jaar oudisies bywoon. Dit is elke Dinsdag tussen 14:15 en 15:30 in Hoërskool Driehoek se skoolsaal. Alle Graad 8’s is hartlik welkom.

Om af te sluit: “Musiek sien nie kleur, ouderdom of geslag nie. Musiek bring ons as mense bymekaar”

Hierdie jong koor van Hoërskool Driehoek spog vandag met ‘n Silwer Vlak III toekenning in die “Music of Spirit and Faith” afdeling.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button