LifestyleLocal newsNews

Donker tyd leer Dawie om ander ook na die lig te lei

Ondanks terugslae woeker Dawie met sy talente

Retha Fitchat
VEREENIGING. – Die lewe het Dawie du Toit al soveel keer platgeklap dat niemand hom sou kwalik neem as hy net bly lê het nie. Tog het dié 46-jarige gestremde man van Vereeniging keer-op-keer opgestaan en talente in homself ontdek waarmee hy nou behoorlik woeker.
Dawie het as driejarige kleuter reumatoïde artritis in die ergste graad opgedoen. Dit het inflammasie en styfheid regdeur sy lyf veroorsaak. Mediese behandeling was destyds nog nie so gevorderd soos vandag nie, met gevolg dat hy erg gestremd gelaat is. Hy was tot in standerd agt (graad 10) in ‘n skool vir gestremdes, maar moes toe ‘n groot rugoperasie kry, wat ‘n totale fusie vanaf sy nek tot by sy stuitjie behels het.
Dawie moes teësinnig aanvaar dat hy nie weer sou kon teruggaan skool toe nie. Sy ma, ‘n enkelouer, het ook nie die finansies gehad om hom privaat te laat leer nie. Sy lewe daarna was geen piekniek nie en Dawie het met die wrede wêreld kennis gemaak.
“Ek is deur ‘n paar lelike ongelukke, was ook al ‘n paar keer beroof, uit my stoel gegooi, my stoel is weggesleep en weggesteek, en ek is dikwels verneder,” vertel hy oor daardie donker tyd in sy lewe.
“My ma het my eerste rekenaar vir my gekoop, waarop ek begin rondjol het, en vandag is ek nogal goed met die moderne tegnologie,” sê hy. Danksy selfhelpprogramme het hy homself as ‘n grafiese ontwerper opgelei en het probeer om werk in die formele sektor te kry. Hy het sy CV by meer as 200 sakeondernemings ingegee maar moes elke keer teleurgesteld hoor dat sy aansoek onsuksesvol was.
Weer het Dawie besluit dat as een deur toegaan, hy by ‘n volgende sou aanklop. Hy het met behulp van afstandonderrig begin studeer en sy BA-graad in Christelike berading deur Team Work International (’n Amerikaanse opleidingsinstituut) sowel as ‘n diploma in natuurlike geneeskunde behaal. Danksy sy studie in vakke soos huweliksberading en die hantering van depressie, tesame met sy eie ervarings as gestremde, kan hy vandag in sy geregistreerde praktyk ‘n simpatieke oor bied aan mense wat voel dat hulle in ‘n donker put vasgeval het.
“Ek is al deur soveel dinge in die lewe dat ek werklik kan connect met enige persoon met probleme. Omdat ek baie probleme self moes deurwerk, kan ek ander nou beter help en vertel hoe ek my uitdagings oorkom het. Ek het ‘n gawe in myself ontdek om veral met jongmense op hul eie vlak te kommunikeer. Ons click vinnig en hulle maak maklik oop teenoor my,” sê Dawie.
Sy droom is om eendag teen ‘n baie bekostigbare fooi met skole en kerke te kan saamwerk – nie net om kos op sy eie tafel te sit nie maar ook ‘n diens in die gemeenskap te kan lewer. “Ek wil mense wat emosioneel stukkend is, help gesond maak,” is sy lewensvisie.
Intussen hou Dawie hom by die huis besig met die interessante wêreld van die rekenaar. Hoewel sy ma die huis met hom deel om met dag-tot-dag take te help, is sy dienshond, Daniël, ook altyd getrou op sy pos om hulp te verleen. Dawie sê dié liefdevolle en intelligente hond, wat deur SA Guide opgelei is, vorm maklik ‘n band met kinders en bejaardes.
Ouers, onderwysers of jeugwerkers wat graag meer oor Dawie se beradingsdiens wil uitvind, kan met hom in verbinding tree by 082 576 9286 of stuur ‘n e-pos na dsdt.christiancounselling@gmail.com. Sakelui wat graag na sy advertensie-ontwerpe wil kyk, is ook welkom om hom te kontak.

Dawie du Toit het reeds ‘n BA-graad in Christelike berading en ‘n diploma in natuurlike geneeskunde behaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button