Local newsNews

Ouers se eerbetoon aan oorlede seun gevandaliseer

Boetie Venter se ouers het reeds drie nuwe kruise teen die boom gaan oprig waar hy gesterf het - en almal is op dieselfde disrespekvolle manier afgeruk en onherstelbaar beskadig.

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Vir Thinus en Suzette Venter sal die datum, 14 Desember 2017, vir altyd in hul geheue ingebrand bly as die dag waarop hulle hul geliefde seun, Thinus (junior) aan die dood moes afstaan.

Thinus junior, of Boetie soos wat hy onder sy familie en vriende bekend was, het in die vroeë ure van die betrokke oggend gesterf toe sy wit Volkswagen Jetta ‘n boom in Mumfordstraat, Vanderbijlpark getref het.

Wyle Boetie Venter (18), wat op 14 Desember verlede jaar gesterf het toe sy voertuig ‘n boom in Mumfordstraat getref het.

“Tot vandag toe weet niemand wat presies gebeur het nie. ‘n Ander voertuig wat moontlik by die voorval betrokke was, het weggejaag,” sê Boetie se tannie, Lize Botha van Vaalpark.

“Boetie was ontsettend gewild onder sy vriende en familie. Hy was baie vrolik, lief vir dans en het altyd geglimlag. As enigiemand hulp nodig gehad het, was hy altyd eerste daar om te help,” sê sy. Sy gesin verwerk sy dood moeilik en het ‘n kruis met sy besonderhede teen die boom waar hy verongeluk het, aangebring. Elke 14de dag van die maand besoek sy ouers die boom om vars blomme te gaan neersit. Hul hartseer word egter duidelik nie deur almal gerespekteer nie. Die eerste kruis is sommer kort nadat dit teen die boom aangebring is, deur vandale afgeruk en vernietig. Intussen het Boetie se ouers reeds drie nuwe kruise teen die boom gaan oprig – en almal is op dieselfde disrespekvolle manier afgeruk en onherstelbaar beskadig. “Dit is reeds so moeilik vir Suzette en Thinus om hul seun se dood te verwerk. Hoe kan mense so wreed wees om boonop hul eerbetoon aan hul kind te vandaliseer,” vra Lize. “Al wat Boetie se ouers en sy drie sussies vra, is dat die skuldiges Boetie moet laat rus,” sê sy.

* Enigiemand wat weet wie die kruise teen die boom in Mumfordstraat vandaliseer, kan Vaalweekblad by 083 246 0523 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button