NewsNews

Hart eis bekende in motorkringe

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende sakeman van die Vaaldriehoek, mnr. Chokkie Wessels, het op 30 Julie onverwags aan ‘n hartaanval gesterf. Hy was vir 30 jaar in vennootskap met mnr. Johan van Tubbergh, wat nege jaar gelede afgetree het. Chokkie was met sy afsterwe alleeneienaar van Wessels en Van Tubbergh Dienssentrum. Chokkie is in Vanderbijlpark gebore …

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende sakeman van die Vaaldriehoek, mnr. Chokkie Wessels, het op 30 Julie onverwags aan ‘n hartaanval gesterf. Hy was vir 30 jaar in vennootskap met mnr. Johan van Tubbergh, wat nege jaar gelede afgetree het. Chokkie was met sy afsterwe alleeneienaar van Wessels en Van Tubbergh Dienssentrum.
Chokkie is in Vanderbijlpark gebore en het sy skoolloopbaan ook hier voltooi. Hy was vir 16 jaar bestuurder van New Vaal Dienssentrum voordat hy en Johan in 1985 Wessels en Van Tubbergh se deure geopen het.
“Chokkie het ‘n hart van goud gehad. Mense wat hom geken het sal daarvan getuig,” sê sy vrou, Edna. Sy sê hulle het die Woensdagaand voor sy dood gaan slaap en sy het niks vreemd opgemerk nie.
“Chokkie was glad nie siek nie. Omstreeks 03:00 die oggend het ek wakker geskrik en besef daar is groot fout. Ek het my buurman Manie geskakel, wat toe die paramedici geskakel het.”
Haar skoonseun Eugene en hul buurman Cor was in telefoniese verbinding met die nooddienspersoneel, wat aan hulle verduidelik het hoe om noodbehandeling toe te pas. Die paramedici het omstreeks 04:00 opgedaag en vir meer as ‘n halfuur vergeefs probeer om Chokkie se lewe te red.
“Hy laat ‘n groot leemte. Sy dood is ‘n geweldige skok vir die familie,” sê Edna.
Die onderneming Wessels en Van Tubbergh sal aangaan soos gewoonlik en word bestuur deur sy seun Natius Wessels, skoonseun Eugene Viviers en dogter Etresia Kleingeld. Die familie bedank graag almal vir die ondersteuning in die afgelope weke.
Buiten sy vrou, sy drie kinders Etresia (34), Clarisa (31) en Natius (27) word Chokkie ook oorleef deur twee skoonseuns Adriaan, Eugene, skoondogter Bianca en drie kleinkinders.

Chokkie Wessels
Chokkie Wessels

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button