LifestyleLocal newsNews

Vaalrivier: VF Plus versoek dat nuwe tegnologie ondersoek word

Waarom doen ons nie ook wat die Australiërs doen om te keer dat rommel in ons riviere beland nie?

Met die toenemende krisis wat die Vaalrivier weens besoedeling ondervind, is dit belangrik dat elke munisipaliteit alles in sy vermoë doen om natuurlike bronne te beskerm.

Die VF Plus het die munisipale bestuurder van Ngwathe-plaaslike munisipaliteit (Parys, Koppies, Heilbron), Bruce Kannemeyer, amptelik versoek om nuwe tegnologie te ondersoek wat reeds in Australië gebruik word om besoedeling meer effektief te bestuur.

Volens Phillip van der Merwe, VF Plus-raadslid in die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit word nette in sommige Australiese stede en dorpe by die uitlaat, waar stormwaterpype in riviere en ander waterbronne vloei, gemonteer om swaar rommel vas te keer. Die nette kan maklik vervaardig word en die skoonmaak daarvan is eenvoudig.

Die VF Plus ag die stelsel as ‘n eenvoudige manier om vullis en swaar rommel uit die Vaalrivier te hou en kan met vrug by veral Parys aangewend word om die rivier skoon te hou.

Die VF Plus het ook in sy versoek aan die munisipale bestuurder gevra dat die munisipaliteit alles in sy vermoë moet doen om riool uit die rivier te hou.

“Die munisipaliteit kan nie bekostig om, soos in die geval van Emfuleni in Gauteng, rioolwerke tot so ‘n mate te laat verval dat dit tot ‘n omgewingskrisis lei nie. Inwoners van Parys verdien ‘n munisipaliteit wat daartoe verbind is om die omgewing tot voordeel van inwoners te beskerm,” sê Van der Merwe.

(21 Augustus 2018)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button