NewsNews

Pa van sewe koelbloedig doodgeskiet

VEREENIGING. – ’n Skokkende tragedie het hom verlede Woensdag in Drie Riviere afgespeel toe ’n man koelbloedig deur gewapende rowers doodgeskiet is. Anton Janse van Rensburg (52), bekende sakeman en eienaar van een van die grootste kleuterskole in Vereeniging, het op 12 Augustus die oggend sy seun Enrico (8) by die skool gaan haal omdat …

VEREENIGING. – ’n Skokkende tragedie het hom verlede Woensdag in Drie Riviere afgespeel toe ’n man koelbloedig deur gewapende rowers doodgeskiet is.
Anton Janse van Rensburg (52), bekende sakeman en eienaar van een van die grootste kleuterskole in Vereeniging, het op 12 Augustus die oggend sy seun Enrico (8) by die skool gaan haal omdat hy siek was. Hy het hom by die huis, waar twee huiswerkers was, gaan aflaai en is terug na die kleuterskool.
Volgens sy vrou Carin was hy nie lank terug nie, toe hulle ’n oproep van een van die huiswerkers ontvang dat daar vreemde mense in die erf is.
Anton, Carin en ’n kollega het in twee afsonderlike voertuie huis toe gejaag. “Toe ek daar aankom was Anton reeds daar. ’n Wit voertuig het in die oprit gestaan en ons kluis was in die kattebak,” sê Carin. In daardie stadium het vier mans uit die huis gehardloop en vier skote op Anton, wat in sy bakkie was, geskiet. “Hy het vir my gewys ek moet ry. Ons woon in ’n doodloopstraat en ek het heeltyd agteruit gery en Anton het my gevolg,” sê Carin. Die mans het hom egter by die stopstraat ingehaal en ’n verdere drie skote geskiet, waarvan een koeël hom in die bolyf getref het. “Ek het my man se kop sien sak en weggejaag,” sê sy. Carin het om die blok gery en probeer om die polisie en ambulans te ontbied.
“Die verdagtes en die voertuig waarmee hulle gery het, was weg.”
Anton het nog geleef toe Carin by hom kom, maar bloed het by sy rug uitgestroom. “Hy het vir my gesê hy weet sy tyd is verby en hy het vir my gesê hoe lief hy my het en dat ek mooi na die kinders moet kyk.”
Sy het weer probeer om hulp te ontbied, maar een hospitaal het nie ambulanse gehad nie en die ander nommer wat sy geskakel het, het haar heeltyd op “aanhou” geplaas. Een van haar kollegas het by Anton gebly terwyl sy Midvaal Hospitaal toe gery het. Met haar aankoms was een van Netcare 911 se ambulanse daar en sy het hulle gesmeek om te kom help. ’n Ambulans en die polisie het haar vergesel na die toneel waar haar man geskiet is. ’n Paramedikus het Anton behandel en die Netcare 911 medikopter is gebruik om Anton na die Unie-hospitaal in Alberton te vlieg vir verdere behandeling. Die koeël wat hom getref het is deur albei sy longe en het ook sy rugstring deurboor. Anton het dieselfde dag omstreeks 17:00 aan sy beserings beswyk. “Sy hart het gaan staan omdat hy te veel bloed verloor het. As ons dalk vroeër vir hom hulp kon kry, was hy dalk nog met ons.”
Die twee huiswerkers en Enrico is erg getraumatiseer. Terwyl Enrico die rowers moes wys waar die kluis en ander waardevolle items is, is die huiswerkers in een van die slaapkamers aangehou. “Toe hulle klaar gevat het wat hulle wou, het hulle Enrico en die huiswerkers beveel om op die bed te lê en ’n kussing oor hul koppe te sit ‘omdat hulle vir altyd gaan slaap’. Dit was op daardie oomblik wat ons by die huis gestop en hulle onderbreek het,” sê Carin. Die rowers het met die kluis waarin vuurwapens en juweliersware was, skootrekenaars, tabletrekenaars en ’n DVD-speler op die vlug geslaan. Die televisiestelle het buite die huis gelê.
“Anton was die wonderlikste man en pappa in die wêreld. Hy was my lewe, my bestaan, my oggend en my aand asook ’n ongelooflike inspirasie vir ons almal. Die lewe is so onregverdig, ons kosbaarste besitting is van ons weggeneem,” sê Carin.
Buiten sy vrou word Anton deur sewe kinders, Marco (28), Chanté (15), Rulyn (12), Enrico, Tegan (7) en tweelingseuns Jayvan en Blake (2) oorleef.
* Volgens kaptein Fikile Funda, woordvoerder van die Vereeniging-polisie, is niemand nog in hegtenis geneem nie.
* Anton word Vrydag om 12:00 vanuit die Impak Kerk begrawe.

Wyle Anton Janse van Rensburg
Wyle Anton Janse van Rensburg

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button