Local newsNews

Sloet Steenkamp lééf by Liggies!

Arende-akteur vertel hoe hy die Engelse ontglip het!

Nico Moolman *

VANDERBIJLPARK. – Dit is bykans dertig jaar later. Die regisseur en draaiboekskrywer het almal wat Arende op televisie gevolg het, so effe in die duister gelos na hierdie reeks se slotepisode. Almal behalwe vir Johan, een van die inwoners van Lewenslig in Carterstraat, Vanderbijlpark. (Lewenslig is ‘n sentrum vir mense met breingestremdhede).

Toe Ian Roberts, wat die rol van Sloet Steenkamp in Arende vertolk het, onlangs deur die skuifdeur van die seuns se werkskamer by Lewenslig instap, het Johan hom net een kyk gegee en met ‘n glimlag wat van oor tot oor gestrek het, uitgeroep: “Sloet… ek het geweet James Kerwin en sy Engelse het jou nie doodgeskiet nie en jy het weggekom!” Sprakeloos het Ian net skaam geglimlag en Johan se verbasing ewe verbaas aanskou.

Net eers bietjie verduidelik. Tydens ons onlangse kuier in Vanderbijlpark, het Cara Roberts en haar pa Ian Roberts saam by Liggies kom inloer. Die kuiertjie hou verband met ‘n rolprent met ‘n Vanderbijlparkse konneksies. Dit net terloops.

Ewenwel, kuier Jacqui Steyn ook saam en so ontmoet Liggies twee wonderlike TV- en rolprentsterre in pa en dogter. Die Liggies het gestraal met die kuier. Daar is gesels vir die vale. Ian het vir Johan vertel hoe hy weggekom het van die Engelse af.

Fanie en Hikkie Blignaut, die twee groot ysters van Lewenslig, het aan ons gaste vertel en gewys hoe knap die Liggies is.

Met ‘n tikkie hartseer is ons daar weg. Rustig ons dag afgesluit by Die Dros in Vanderbijlpark. Heerlik geëet en ge-ontspan. Dis mos hoe mens vriende maak. Jy is wat jy is.

* Nico Moolman is ‘n gevierde skrywer wie se jongste boek, Dankie Generaal, pas die lig gesien het. Nico en sy vrou, Naomi, is ook die nie-amptelike “ouma en oupa” van Lewensllig se inwoners.

Die skrywer, Nico Moolman, en sy vrou, Naomi.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button