News

Gavin-skietdood: beskuldigde gevonnis

VEREENIGING. - Meer as twee jaar na die skietdood van die 20-jarige Gavin Victor is die beskuldigde in die saak op 27 Augustus gevonnis.

Stephanus Klopper, wat tereg gestaan het op ‘n aanklag van moord met voorbedagte rade, is vroeër vanjaar skuldig bevind aan strafbare manslag.

Sy regsverteenwoordigers het aangevoer dat hy uit selfverdediging opgetree het toe hy Victor op 7 Mei 2016 doodgeskiet het. Klopper is tot agt jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis. Hy is ook gevonnis tot twee jaar huisarres waartydens hy onder meer verpligte programme moet bywoon en 16 uur gemeenskapdiens elke maand moet verrig.

Landdros Retha Willemse het tydens die vonnisoplegging gesê dit was een van die moeilikste sake nog en sy het die aard en erns van die misdryf, die gemeenskapsbelang en die beskuldigde se persoonlike omstandighede in ag geneem om ‘n gepaste straf op te lê.

“In minder as twee minute is lewens verwoes. Baie mense sê dikwels ‘sluit iemand toe en gooi die sleutel weg’, maar huisarres is ‘n tasbare en sigbare vonnis wat nie weggaan nie,” het sy gesê.

Victor is op 7 Mei 2016 in die parkeerarea van die kuierplek Manhattans in Drie Riviere-Oos doodgeskiet. Vaalweekblad het vroeër berig dat ‘n onderonsie tussen Klopper en een van Victor se vriende vroeër die aand ontstaan het. Toe Victor en sy vriend ‘n geruime tyd daarna op pad was huis toe, het Klopper en sy pa, Andreas, hulle ingewag.

Beeldmateriaal wys hoe Victor se vriend uit die kar geruk en aangerand word. In ‘n stadium probeer Victor tussenbeide tree, maar word drie keer in die bors geskiet.

 

Klopper saam met sy pa. Foto: Facebook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button