LifestyleLocal newsNewsSport

Plaaslike afrigter Boucher sprei sy vlerke wyd

Die stigter en internasionaal bekende afrigter van CJB Sports Academy, Charles Boucher, is terug van ‘n baie suksesvolle seisoen in Engeland

VAALDRIEHOEK. – Die stigter en internasionaal bekende afrigter van CJB Sports Academy, Charles Boucher, is terug van ‘n baie suksesvolle seisoen in Engeland.
Die atlete by AKS Private School in Lytham St. Annes, Lancashire, wat vroeër vanjaar drie maande by hom afrigting ontvang het, het in hul onderskeie ouderdomsgroepe elk die prys as beste atleet ontvang. Die beste atleet van die skool is ook vanuit dié oefengroep aangewys.
Met die prysuitdeling van AKS Private School waar die atlete erkenning ontvang het vir hul prestasies, het Charles ook die geleentheid gekry om met die voormalige Olimpiese gouemedaljewenner en president van United Kingdom-atletiek, Jason Gardener, te gesels waar hy as motiveringspreker opgetree en ook die prys vir die beste atleet in die skool, Layla Wholey, oorhandig het.
In die Vaaldriehoek het CJB Sports Academy ook goeie resultate opgelewer met onder meer 28 atlete wat vanjaar aan die D7-kampioenskappe deelgeneem het en nege goud, 13 silwer- en agt bronsmedaljes ingesluit het, met twee onttrekkings weens beserings.
Die Middelburgtak het gegroei tot 16 atlete van wie twee atlete gevorder het tot op nasionale vlak, en die tak in Jeffreysbaai sal einde 2018 aktief begin.
* Megan Vance, ‘n o.12-leerling aan Laerskool Fonteine in Sasolburg, is aangewys as die CJB Sports Academy se ster-atleet in die seisoen wat van Augustus 2017 tot Maart 2018 gestrek het. Sy is sedert 2016 ‘n atleet by CJB Sports Academy, onder leiding van die stigter en internasionaal bekende afrigter, Charles Boucher.
Megan se prestasies sluit in: gouemedaljewenner in die 70mh by Klubs SA in November 2017; skole-atletiek vir 2018: Fonteine-byeenkoms – goud, 75mh en 150mh, beste dogtersbaanatleet; Vaalpark-byeenkoms – goud in die 75mh en 150mh, beste dogtersbaanatleet, beste algehele prestasie met 1 240 punte op die Absa-tabel vir 150mh, Vaalrivier-byeenkoms – goud in die 75mh en 150mh, beste dogtersbaanatleet; Vrystaat-byeenkoms – goud in die 75mh en 150mh, beste dogtersbaanatleet, verbeter 10 jaar oue rekord in 150mh; SA kampioenskappe in die Paarl – vyfde in 75mh en goud in 150mh.
Die hoogtepunt vir atlete van CJB Sports Academy in die Augustus 2017 tot Maart 2018 seisoen was die geborgde wenprys van ‘n toer na die Verenigde Konin-kryk vir die atleet met die beste prestasies.
Megan het met die wenprys weggestap en is deur haar ma, Jeanine, op die toer vergesel, wat hulle onlangs na Engeland onderneem het.
* CJB Sports Academy se nuwe 2018/2019 seisoen het pas begin. Enige navrae kan gerig word aan Charles Boucher by cjbsportsacademy@gmail.com.

Megan tydens haar vakansie in Brittanje.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button