Geen diens, net gemors in dié dienslane
Van die mense gebruik openlik dwelms en sommige trek in die openbaar hul broeke af en ontbloot hulself vir enigeen om te sien
VEREENIGING. – Sakelui in Vereeniging se sentrale sakegebied het die afgelope maande reeds herhaaldelik gekla oor die swak toestand van die dienslane in die gebied. Rommel word onbeheerd daar gestrooi met die gevolg dat die lane soms nie vir voertuie begaanbaar is nie. Daklose mense slaap gereeld daar en dit is nie ongewoon om stellasies met matrasse en komberse tussen die rommel opgestapel te sien nie.
“Ons is bang hier gaan een van die dae ‘shacks’ in die dienslane opgerig word! Van die mense gebruik openlik dwelms en sommige trek in die openbaar hul broeke af en ontbloot hulself vir enigeen om te sien. Die dienslane is ‘n skande en dit dryf ons kliënte weg,” sê ‘n sakeman.
Ster het vroeër vanjaar ‘n berig oor die situasie geplaas, waarna van die dienslane deur die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit opgeruim is, maar die situasie is vinnig besig om weer net so te versleg. Ster het die sakelui se klagtes onder Emfuleni se aandag gebring.




