Local newsNationalNews

Trane vloei toe verlamde pa sy dogter ‘inbring’ by haar troue

Mnr. Alex van Rensburg was ‘n sakeman van Sasolburg met sy eie hysbak-onderneming toe hy in September 2016 naby die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg deur ‘n rower in die kop geskiet is

 

Retha Fitchat
SASOLBURG. – Daar was Saterdagmiddag, 1 September, min droë oë in die AGS Sasolburg-Noord-gemeente toe ‘n pragtige bruid met die paadjie kansel toe gestap het.

Die rede? Die bruid se pa, wat twee jaar gelede stom en verlam gelaat is deur ‘n rower se koeël, het haar in die kerk ingebring, soos wat sy altyd gedroom het dit sou wees.

“Ek was nog oukei totdat ek uit die troukar geklim het, maar toe ek my pa in sy rolstoel sien wag vir my, deftig uitgevat vir die geleentheid, het ons albei kliphard begin snik. Ek dink almal, tot my bruidegom Jacques, se oë was vol trane terwyl ek kansel toe gestap het met my pa in sy rolstoel,” sê Zanje Petterson (25), ‘n onderwyseres aan die Laerskool Parksig.

Haar pa, mnr. Alex van Rensburg, was ‘n sakeman van Sasolburg met sy eie hysbak-onderneming toe hy in September 2016 naby die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg deur ‘n rower in die kop geskiet is. (Sien foto van die destydse voorbladberig).

Min mense het destyds gedink dat Alex die aanval sou oorleef, maar hy het aanhou veg en wonderbaarlik bly leef. Hoewel hy weens sy breinskade nie kan praat nie en heeltemal verlam is aan die regterkant van sy lyf, is hy by sy volle bewussyn. Hy herken al sy familielede en verstaan presies wat om hom aangaan. Mnr. Van Rensburg is nou ‘n inwoner van ‘n versorgingsoord in Drie Riviere, waar hy voltyds versorg word. Die rower is nooit gevang nie.

Die gesin bedank graag sy versorgers en die ambulansdiens Vaal Emergency Care wat mnr. Van Rensburg met groot sorg vanaf Vereeniging na die troue in Sasolburg vervoer het. “Hoewel baie trane op my troue gevloei het, was dit ‘n onvergeetlike en kosbare ervaring,” sê Zanje.

* Kyk na die video waar Zanje kansel toe stap by hierdie skakel:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button