Local newsNewsNewsBreaking News

Oog vernietig in blits-aanval

'n Groot glasskerf moes in 'n noodoperasie van vier ure uit sy oog verwyder word.

Retha Fitchat

‘n Jong man van Vereeniging is voorverlede Saterdag blind gelaat in sy regteroog ná ‘n onverwagse aanval deur ‘n medebesoeker by ‘n gewilde kuierplek langs die Vaalrivier.

Lourens Koster (24) het Saterdagmiddag, 1 September, saam met ‘n vriend en dié se meisie ‘n drankie langs die rivier by River Palace in die Stokkiesdraai-omgewing gaan drink, toe ‘n groep van drie of vier mans in ‘n motorboot opgedaag en na die restaurant gestap het. Hoewel Lourens en sy vriende die mans van geen kant af geken het nie, het die mans ‘n gemoedelike geselsie met hulle aangeknoop en in ‘n stadium selfs ‘n klein glasie Jägermeister vir elkeen gekoop.

Die mans het daarna op hul eie by ‘n ander tafel gaan kuier.

Teen omstreeks 15:30 het een van die mans onverwags in Lourens, wat met sy rug na hom toe gesit het, gestap en hom so hard teen die agterkop geslaan dat Lourens se voorkop die glase op die tafel voor hom getref het. Van die glase het gebreek en ‘n groot glasstuk het in Lourens se oog ingesteek terwyl die aanvaller steeds sy kop daarin gedruk het. Bloed het uit die wond in Lourens se oog begin stroom.

Mnr. Martin Ruppel, eienaar van River Palace, sê hy het die aanval nie sien kom nie, maar wel geluide gehoor wat geklink het soos glase wat breek. Toe hy omdraai en sien wat aan die gang was, het hy die aanvaller beveel om die perseel te verlaat. Hy is toe in sy boot daar weg.

“Niemand het dadelik besef hoe ernstig Lourens beseer was nie. Dit was eers toe hy op die grond gelê en ons gesien het hoeveel bloed uit sy wond stroom, dat ons besef het hoe erg dit was,” sê Martin. Sy volwasse seun, Shaun, wat opgelei is in noodhulp, het Lourens bygestaan totdat paramedici van Netcare 911 opgedaag en hom per ambulans na Mediclinic Emfuleni geneem het. ‘n CT-skandering is dadelik gedoen, waar vasgestel is dat sy oogbal middeldeur gesny en dieperliggende weefsel ook erg beskadig is. Lourens is na Cormed-kliniek in Vanderbijlpark oorgeplaas, waar ‘n oogspesialis, dr. L. Coetzee, die Saterdagnag ‘n noodoperasie van vier ure op hom uitgevoer het.

“Hoewel dit duidelik was dat Lourens die sig in sy oog verloor het, het dr. Coetzee die oopgekloofde oogbal geheg in die hoop dat dit nie nodig sou wees om die oog heeltemal te verwyder nie. ‘n Professor van Johannesburg wat in dié soort beserings spesialiseer, gaan later die week bepaal of die beskadigde oog verwyder en met ‘n kunsoog vervang moet word,” sê Lourens se ma, mev. Caroline Dixon, ‘n bekende beroepsgesondheidsuster van die Vaaldriehoek.

Dr. Henk Koster, Lourens se pa wat tans as mediese dokter in Swakopmund praktiseer, het dadelik nadat hy van die voorval gehoor het, na die Vaaldriehoek gevlieg om ook by sy seun te wees. “Ek het gou besef die kanse dat sy oog gered sou kon word, was zero. My hart bloei vir my kind. Hy was in sy lewe nog nooit in ‘n bakleiery betrokke nie. Hy is ‘n sagte, liewe kind,” sê hy. Lourens, wat reeds ‘n gedeelte van sy B.Com-graad voltooi het, is ‘n groot liefhebber van rekenaar-animasie en het beplan om aanstaande jaar verdere opleiding in dié rigting te kry. Sy studieplanne is voorlopig nou van die baan.

* Die aanvaller is volgens ooggetuies die seun van ‘n vooraanstaande familie van Fochville, wat gereeld in sy motorboot op die Vaalrivier gesien word. Hy is nog nie in hegtenis geneem nie. Sy identiteit is aan Vaalweekblad bekend maar word op regsadvies weerhou.

Die polisie ondersoek ‘n saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer. ‘n Arrestasie word later die week verwag

Lees ‘n opvolgberig in Vaalweekblad van 19 September.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button