59-Jarige man “groom” 17-jarige meisie
VANDERBIJLPARK. - Met verskeie gerugte van kinderontvoering op sosiale media word ouers weer eens bewus gemaak van die gevare wat kinders en tieners in die gesig staar.
Kinders moet beskerm word
Jannie du Plessis
VANDERBIJLPARK. – Met verskeie gerugte van kinderontvoering op sosiale media word ouers weer eens bewus gemaak van die gevare wat kinders en tieners in die gesig staar.
Volgens die polisie is meeste van die gerugte oor ontvoerings wat tans op sosiale media versprei word, egter nie waar nie. Ouers moet egter alles in hul vermoë doen om hul kinders te beskerm.
Die CW6-buurtwag het onlangs ‘n wit bakkie naby ‘n plaaslike laerskool opgemerk. Na bewering het die bestuurder by verskeie van die hekke foto’s van leerlinge geneem.
Op die groep “Pink Ladies” se Facebookblad is die verdwyning van ‘n 17-jarige meisie van Meyerton sedert 6 September wyd en syd versprei. ‘n Geval van ‘n “vermiste persoon” is op 7 September by die Meyerton Polisie deur haar ouers aanhangig gemaak.
Drie lede van Vaal Response Unit (VRU) se Vereenigingtak, ‘n gemeenskapsorganisasie wat hul beywer om misdaad in die Vaal hok te slaan, het dadelik werk gemaak van die geval, waarna ‘n 59-jarige man in Calvinia gearresteer is. Hy het op Vrydag 14 September in die hof verskyn. Hy en die meisie was waarskynlik op pad Kaap toe.
Anke van der Schyff, Lorna Ferreira en Matt Marshall, lede van VRU, het verskeie leidrade opgevolg. Die meisie het op 31 Mei vanjaar ‘n beskermingsbevel teen die man bekom, wat hom verbied het om met haar kontak te maak of haar te dreig. Ten spyte van die beskermingsbevel en haar verdwyning is die man egter op 14 September deur die hof vrygelaat nadat die meisie hom na die “ontvoering” gekontak het.
Hulle is Saterdag 8 September deur ‘n lid van die publiek in ‘n Spar in Bloemhof opgemerk. Foto’s van geslotekring videomateriaal in die Spar wys dat albei glimlag en dat die meisie geensins bedreigd lyk nie. Met behulp van kontakte en die polisie is hulle in Calvinia opgespoor.
Die meisie is op 12 September terug na haar ouerhuis en is tans by pleegouers. Die man is in die polisieselle in Calvinia aangehou en is met dieselfde voertuig as die meisie, maar wel agter in die vangwa, na die Vaaldriehoek teruggebring. Volgens onbevestigde inligting is dit nie die eerste keer dat hy met so ‘n jong meisie bevriend geraak het nie. Tydens Vaalweekblad se onderhoud met die meisie se ma, het sy ouers gewaarsku om ten alle tye te weet wat hul kinders doen, waar hulle is, asook met wie hulle bevriend is.
“Die man het my kind sowat drie maande gelede verkrag en ons het toe ‘n interdik teen hom gebring om nie meer kontak met haar te hê nie. Die man het ‘n geskiedenis en hy het my meisiekind gegroom,” vertel die ma.
“Hy het haar so gemanipuleer dat sy selfs in die hof teen ons gedraai het,” vertel sy. Ouers word gewaarsku dat hierdie werklikhede is en daagliks plaasvind en dat rebelse tieners tot uiterstes gaan. Nie al sulke verhoudings het die groot ouderdomsverskil nie maar ouers moet vroegtydig ingryp as hulle bewus word van sulke verhoudings.
* Die term “grooming” verwys in dié konteks na ‘n kind wat deur ‘n ouer persoon verlei en voorberei word met die oog op seksuele dade.
Hier klim die man in die voertuig waarmee hy en die 17-jarige meisie waarskynlik op pad Kaap toe was toe hulle in Calvinia aangekeer is. Foto: Verskaf




