“Die Gelofte” getoonset in hoendervleis-musiekvideo
’n Toonsetting van die Gelofte wat in 1838 deur Sarel Cilliers opgestel is en waarin die Voortrekkers hul afhanklikheid van God op ’n tydstip van moedeloosheid en onsekerheid oor die toekoms verklaar het, is vandag, 1 Oktober 2018, vrygestel. Luister daarna by die skakel hier onder.

Mia Slabbert
Die Gelofte
Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n sabbat sal deurbring; en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.
Hierdie woorde het ʼn spesiale plek in die harte van talle Afrikaners. “Die Gelofte” is ’n toonsetting van die Gelofte wat in 1838 deur Sarel Cilliers opgestel is en waarin die Voortrekkers hul afhanklikheid van God op ’n tydstip van moedeloosheid en onsekerheid oor die toekoms verklaar het.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag die musiekvideo van “Die Gelofte” saam met die vervaardigingsmaatskappy Inhoud Huis en vyf van die land se topkunstenaars op AfriForum se YouTube-kanaal vrygestel.
“Die gedagte om ʼn album met Afrikaanse protesmusiek vry te stel, het vroeër vanjaar by ons opgekom omdat ons meen daar bestaan ʼn werklike behoefte daarvoor. Dit is veral nou nodig om vir mense hoop en inspirasie te gee,” het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.
Die lied word deur Adam Tas, Chris Chameleon, Ghapi, Juan Boucher en Christoph Kotze (beter bekend as Appel) gesing. Dit is deur Johan Vorster van Inhoud Huis en Kotze getoonset. Die lied “Die Gelofte” sal uiteindelik deel wees van ʼn volledige album met dieselfde titel wat in opdrag van AfriForum deur Vorster en sy maatskappy, Inhoud Huis, vervaardig is.
“Die Gelofte” is nie getoonset met die doel om as proteslied beskou te word nie. Dit is ’n gewyde lied. Dit is ’n lied van introspeksie, ’n lied oor swakheid en ’n lied oor krag.
“Ons sien nie dié lied as ʼn proteslied nie, maar ons meen die lied en die Gelofte is wel belangrik in die tydsgewrig waarin ons leef en waar mense dikwels moedeloos voel. Die Gelofte is ook geskryf en afgelê in ʼn tyd toe mense moedeloos en baie onseker oor die toekoms was,” het Roets bygevoeg.
Die volledige album word later in Oktober vrygestel.
Luister na die musiekvideo by hierdie skakel:
INLIGTING VERSKAF DEUR SOLIDARITEIT



