Local newsNews

Geliefde oud-rugbyspeler verloor kankerstryd na 12 jaar

Volgens sy vrou, Espagh, ‘n professionele verpleegkundige, het Coert selfs te midde van sy siekte altyd positief gebly

 

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende en geliefde inwoner van die Vaaldriehoek, mnr. Coert Erasmus, het op 21 September gesterf na ‘n stryd van 12 jaar teen kanker.

Coert is in Vanderbijlpark gebore en getoë en het in die 1970s aan HTS Carel de Wet gematrikuleer. Hy was veral bekend in rugbykringe en het in sy jong dae vir Yskor en later vir Vaaldriehoek as skrumskakel gespeel. Hy was dwarsdeur sy lewe ‘n groot sportgeesdriftige.

Coert was jare lank ‘n werknemer van die destydse Yskor voordat hy ‘n pos in die ingenieursafdeling van die plaaslike stadsraad aanvaar het. Hy is in 2006 met sagteweefsel-sarkoom, ‘n vorm van kanker, gediagnoseer en is omstreeks 2015 medies ongeskik verklaar om verder te werk.

Volgens sy vrou, Espagh, ‘n professionele verpleegkundige, het Coert selfs te midde van sy siekte altyd positief gebly.

“Hy was die een wat ander altyd bemoedig het en mense na Jesus wou lei,” sê sy.

Sy familie en vriende het op 15 Julie sy 60ste verjaardag saam met hom gevier. Almal het besef dat dit dalk die laaste keer sou wees dat hulle saam met hom sou kon kuier.

Coert se toestand het in September vinnig versleg en hy is in Mediclinic Vereeniging se onkologiesaal opgeneem, waar hy twee weke later met Espagh aan sy sy, gesterf het.

‘n Huldigingsdiens is verlede week by die River of Life Kerk in Vanderbijlpark gehou.

Die kerk se stampvol kapel was ‘n bewys van die groot getal vriende en kennisse wie se lewens hy deur die jare aangeraak het. Talle mense moes in die gangetjie of buite die deure sit.

Buiten Espagh word Coert ook oorleef deur hul drie seuns, Henrico, Rhicert en Coert, twee skoondogters, ‘n kleinseun, sy broers en suster, sowel as sy ouers, Bokkie en Elsie Erasmus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button