Jong vrou in gesig geskop; meisie met glasskerf gesny
‘n Skoolmeisie en ‘n jong vrou is verlede week helder oordag in afsonderlike voorvalle - een in Sasolburg en een in Vanderbijlpark - deur aanvallers oorval terwyl hulle alleen gestap het
Retha Fitchat
‘n Skoolmeisie en ‘n jong vrou is verlede week helder oordag in afsonderlike voorvalle – een in Sasolburg en een in Vanderbijlpark – deur aanvallers oorval terwyl hulle alleen gestap het. In albei gevalle het die slagoffers in woongebiede gestap wat normaalweg bedags as veilig beskou word.
‘n 27-jarige vrou van Sasolburg is verlede Dinsdag in die groenstrook naby die Penny Heyns-swembad deur twee aanvallers oorval en op die grond neergegooi. Sy is in die gesig geskop terwyl die rowers haar aan die arm rondgeruk het om haar te dwing om haar selfoon te laat los.
Mnr. Vernon Sadler (35), eienaar van One Way Kitchen Cupboards, het op daardie oomblik saam met sy 10-jarige seun by die groenstrook verbygery en die gebeure gesien. Hy het dadelik ‘n u-draai gemaak en die aanvallers, wat intussen weggehardloop het, met sy bakkie agtervolg. Een het ‘n ligte stamp opgedoen toe hy voor die bakkie ingehardloop het. Vernon het stilgehou en die aanvallers te voet agterna gesit. Een van die rowers het ‘n stok opgetel en dreigend gemik om Vernon te slaan. Vernon, op sy beurt, het inderhaas ‘n leergordel uit sy bakkie gehaal en ‘n paar goeie houe na die aanvaller gemik.
Die rowers het die selfoon neergegooi en gevlug. Vernon het een van die nommers op die selfoon geskakel om uit te vind aan wie dit behoort, en by die slagoffer se suster uitgekom.
Die slagoffer, wat erg getraumatiseer was, was toe reeds by haar huis, en Vernon kon haar onbeskadigde selfoon aan haar teruggee. Buiten ‘n paar slegte kneusplekke het sy nie ernstige beserings opgedoen nie.
* In die ander voorval op dieselfde dag, is ‘n jong meisie in Nathanstraat, SE2, Vanderbijlpark, deur ‘n aanvaller oorrompel. Volgens mnr. Andries Visagie, taksekretaris van AfriForum in Vanderbijlpark, het die aanvaller haar met ‘n gebreekte glasbottel probeer steek en haar gewurg. Gelukkig het die meisie kennis van Oosterse gevegskuns en kon sy haarself verdedig, maar het wel snymerke aan haar arms opgedoen.
Die aanvaller is ‘n swartman van omtrent 1.7m lank en skraal gebou. Die meisie kon ongelukkig nie ‘n beskrywing van sy kleredrag gee nie.
Visagie beveel aan dat kinders van jongs af geleer moet word om bewus te wees van hul omgewing (“situational awareness”) en waar moontlik, ‘n vorm van selfverdediging moet kan toepas. Dis ook veiliger om nie alleen op straat te loop nie, selfs in die buurt waar jy woon. Hy sê daar is al heelwat gevalle gerapporteer van kinders wat helder oordag beroof is van hul selfone en ander waardevolle artikels.



