Agt polisielede vandag in hof op aanklagte van moord en marteling
Die polisielede wat beskuldig word, was sedert Vrydagmiddag in aanhouding in die polisieselle
Agt polisiebeamptes gaan na verwagting vandag (8 Oktober 2018) in die Vanderbijlparkse landdroshof verskyn op aanklagte van marteling en moord.
Die polisiebeamptes, ses mans en twee vroue, se inhegtenisname Vrydag, hou glo verband met die dood van ‘n Nigeriër, Ibrahim Badmus, in Oktober verlede jaar tydens polisie-optrede om beweerde dwelmsmokkelary in Vanderbijlpark te ondersoek.
Die oorledene is na bewering tydens die ondersoek met ‘n kussing versmoor.
Die polisielede wat beskuldig word, was sedert Vrydagmiddag in aanhouding in die polisieselle. Dit het tot groot woede onder verskeie van hul kollegas en inwoners van die dorp gelei.
“Waarom hulle op ‘n Vrydag in hegtenis neem wanneer almal weet hulle tot Maandag sal moet wag om vir borgtog aansoek te doen? Dit is onbillik, vernederend en gemeen teenoor die polisielede,” het verskeie Vaalweekblad-lesers op ons SMS-lyn, WhatsApp en Facebook-inbox laat weet.



