Local newsNationalNews

Twee direkteure van Midland Groep sterf binne 6 weke

Wyle mnr. Piet Snyman se afsterwe is ses weke gelede voorafgegaan deur die dood van mnr. Louis-Hendrik Claassen (39), wat einde Augustus in ‘n motorongeluk op die Koppies-Wolwehoekpad omgekom het

Retha Fitchat
SASOLBURG. – ‘n Tweede tragedie in skaars ses weke het die Midland Groep getref met die skielike afsterwe van mnr. Piet Snyman (63), ‘n direkteur van dié reuse-verskaffer van hoëgehalte vleis aan die Suid-Afrikaanse en internasionale mark.
Mnr. Snyman, wat sedert 1985 aan die Midland Groep verbonde was, het op 3 Oktober in Mediclinic Potchefstroom gesterf nadat hy vermoedelik reeds die vorige aand ‘n hartaanval gehad het. Volgens sy seun, mnr. Deon Snyman van Vereeniging, is die amptelike oorsaak van sy pa se dood ‘n bloedklont deur die longe en hart.
Hoewel mnr. Snyman senior ‘n rugprobleem gehad het waarvoor hy onlangs geopereer is, het hy tot met sy dood geen ander gesondheidsprobleme gehad nie.
Wyle mnr. Snyman se afsterwe is ses weke gelede voorafgegaan deur die dood van mnr. Louis-Hendrik Claassen (39), wat einde Augustus in ‘n motorongeluk op die Koppies-Wolwehoekpad omgekom het. Louis-Hendrik was ook ‘n direkteur van die Midland Groep en seun van mnr. Edwin Claassen, stigter van die Groep.
* Wyle mnr. Snyman het in Fochville grootgeword en op die familieplaas, Snymanshof in die Potchefstroomdistrik, gewoon. Hy het elke dag die sowat 60 km tussen sy wildsplaas en sy Vaaldriehoekse kantoor gery.
Volgens die Midland Groep se geskiedkundige oorsig op die internet het mnr. Snyman, tesame met die stigter, mnr. Edwin Claassen, reeds in 1985 die fondasie gelê vir die latere sukses van die Groep, wat vandag werk aan meer as 1 000 mense verskaf.
“My pa het hom in die 33 jaar wat hy aan die Midland Groep verbonde was, van rekenmeester tot ‘n direkteur opgewerk. Hy was rekenkundig baie sterk en baie lojaal aan die Groep. ‘n Reguit persoon wat geweet het wat hy in die lewe wou bereik en bereid was om hard daarvoor te werk. Dit was ook die ingesteldheid wat hy aan sy kinders oorgedra het. Hy was baie lief vir sy gesin en het groot vreugde uit sy kleinkinders geput,” sê Deon.
Mnr. Snyman is Dinsdag, 9 Oktober, vanuit die NG Gemeente Fochville begrawe. Hy word oorleef deur sy vrou, Christa, sy seun en dogter, sy skoonkinders en vier kleinkinders.
Wyle mnr. Piet Snyman, ‘n direkteur van die Midland Groep.

Wyle Louis Hendrik Claassen. wat einde Augustus in ‘n motorongeluk gesterf het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button