EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Vaaldriehoek se Anton bewys op TV sy brein is blitsig!

Om in die warm stoel voor die kameras te sit tydens ‘n TV-vasvrawedstryd is baie anders as om die vrae in die gerief van jou eie voorhuis te beantwoord!

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – Om in die warm stoel voor die kameras te sit tydens ‘n TV-vasvrawedstryd is baie anders as om die vrae in die gerief van jou eie voorhuis te beantwoord.
Só sê Anton van Staden (40), verkoopsbestuurder by Nashua in Vanderbijlpark, wat gekies is om aan die tweede seisoen van die TV-kanaal Via se Blitsbrein-program deel te neem. Dit word Dinsdagaande om 18:00 op Via (DSTV-kanaal 147) uitgesaai.
In episode 4 van die reeks het Anton teen die bekende slimkop, Daantjie “Dinamiet” Badenhorst, te staan gekom – en hom geklop! Daantjie is veral bekend as briljante wenner van Noot-vir-Noot en Flinkdink.
“Dit was natuurlik intimiderend om teen Daantjie met sy vorige suksesse deel te neem, maar ek het maar net besluit om in die blitsrondtes soveel moontlik punte bymekaar te maak en hom uit sy gemaksone te kry. Dit het gewerk en ek het hom met 29 punte teenoor 25 gewen,” sê Anton.
Die deelnemers met die top ses episodetellings dring deur na die semi-finaal.
Anton sê hy het ‘n goeie geheue van albei sy ouers geërf en het ‘n baie breë belangstellingsveld. Hy hou veral van geskiedenis en sy sterkste onderwerpe is historiese figure en popkultuur.
“Ek is baie lief vir lees en lees enigiets wat voorkom. Ek moes ‘n telefoniese oudisie vir die program aflê waarin ‘n mens se algemene kennis getoets word.
“Die vrae in die program kom uit baie uiteenlopende kategorieë en die vinnige formaat van die program maak dit veral moeilik. Jy moet maar net probeer om te fokus en eerste die knoppie te druk! Dis baie anders as om by die huis te sit in jou gemakstoel en die antwoorde uit te roep,” sê hy.
Vroulief Heidi en seun is Janu (10) is natuurlik baie trots op dié slim man in hul midde en hou styf duimvas dat hy die reeks wen, want die wenner gaan R120 000 huis toe bring. “Ek het my gesin belowe ek gaan hulle op ‘n lekker vakansie neem as ek wen,” sê Anton.
En ‘n mens kan seker voorspel dat daar ‘n hele paar geskiedenisboeke en biografieë tussen Anton se bagasie sal wees!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button