Wanneer jou ergste nagmerrie waar word
Ettienne van Rensburg As joernalis en fotograaf beleef en sien mens baie dinge. In die proses raak mens afgestomp of jy dit nou wil erken of nie. Die gejaag om ‘n voorbladfoto of -storie te kry, oorheers soms alles. Maar ten koste van wat? Boet mens jou menslikheid in? Verloor jy perspektief? Enige joernalis se …

Ettienne van Rensburg
As joernalis en fotograaf beleef en sien mens baie dinge. In die proses raak mens afgestomp of jy dit nou wil erken of nie. Die gejaag om ‘n voorbladfoto of -storie te kry, oorheers soms alles. Maar ten koste van wat? Boet mens jou menslikheid in? Verloor jy perspektief?
Enige joernalis se grootse vrees is om eendag ‘n storie te dek waar ‘n kennis, vriend, kollega of familielid betrokke is. Maandagaand 17 Augustus 2015 om 22:30 het die tyd vir my aangebreek om my ergste nagmerrie in stadige-aksie te beleef.
Vir die eerste keer in weke is ek reeds om 21:00 in die kooi. Om 22:30 skrik ek wakker. My selfoon flikker en vibreer op my bedkassie. Deur dikgeslaapte skrefies-oë sukkel ek om te fokus. Alles begin in fokus kom. Ek sien Faan Schutte se naam op die skerm flikker. Ek weet instinktief iets is fout. Ek antwoord onmiddellik. Die woorde wat volg ruk my binneste. “Etta kom help! Oom Jan se huis is aan die brand,” weergalm sy benoude stem.
“Ek is op pad, ek is op pad,” stotter ek en spring uit die bed en begin aantrek. Ek gil vir my vrou om die brandweer te ontbied, terwyl ek aantrek. Dit voel soos ‘n ewigheid. Die brandweer antwoord nie…
Uiteindelik is ek in die kar. Selfoon teen die oor. My oë en verstand is nog dik en stadig van die slaap. Is Oom Jan en Oom Faan in die huis vasgekeer? Hoe het die brand ontstaan? Die gedagtes maal deur my brein… Onsekerheid en vrees spoel oor my gemoed. Aan die ander kant van die foon verduidelik ‘n opname dat dit ‘n kriminele ootreding is om poets-oproepe na noodnommers te maak….. Bla-bla-bla, whatever! Hoekom moet ek hierna luister?! Vervolg my as julle wil! Uiteindelik antwoord daar ‘n vrouestem. Uit frustrasie gil ek:”There’s a house burning down. 19 Abraham Kriel Street, Vanderbijlpark. Please send a fire truck immediately.”
“Where is Abraham Kriel street?” vra die person. My verstand vries. Erm, erm, erm… “Next to Old Vaal Tonians,” sê ek. Terwyl ek aangejaag kom, sien ek Oom Faan se meroen Uno voor die huis staan. Ek sien ‘n skaduwee by die kar beweeg maar ek steur my nie daaraan nie. Daar’s nog ‘n wit voertuig wat ek nie ken nie. Ek trap die rempedaal en spring uit nog voor my kar behoorlik tot stilstand gekom het.
Ek hardloop by die hek in… Daar staan Oom Jan in die voortuin. Regterarm in ‘n hangverband en selfoon teen sy oor gedruk. In die agtergrond loei die huisalarm. “Waar’s Oom Faan,” vra ek. Oom Jan wys met sy vinger na buite. Ek is rustiger – hulle is veilig.
Die sekuriteitswag wat op die noodalarm reageer het, staan soos ‘n soutpilaar verstar. Ek storm voor hom verby, voordeur toe. Die rook peul by die kuier-area se deur uit en vlamme lek-lek aan die dak. Ek gryp die tuinslang en gil vir die wag om die kraan oop te draai. Van beleefd wees is daar geen sprake.
Die dun straaltjie water word onmiddellik deur ‘n oranje gloed verswelg. Ek besef ek gaan niks vermag nie, maar ek kan mos nie opgee nie… Ek gil kliphard vir die bure om tuinslange en brandblussers te bring, maar niemand hoor my nie. My keel trek toe van benoudheid. Skielik word ek teruggeruk uit my droomwêreld.
“Ons moet hier uitkom daar’s gasbottels hier binne,” sê ‘n stem langs my. Onmiddellik erken ek die fris, kaalkop man met die bokbaardjie hier langs my. Dis Gunner Williamson, ‘n goeie vriend wat pas daar aangekom het.
Sy woorde tref my soos ‘n emmer yskoue water in die gesig. Ek dink by myself. Wat dink jy doen jy? Jy’s nie ‘n brandweerman nie. Jou swanger vrou lê by die huis en bekommer haarself oor jou.
Terwyl my aandag en die tuinslang se dun waterstraaltjie verskuif om ’n groot gasbottel by die kombuis nat te spuit, gaan daar nog ‘n dolk deur my hart. “Etta, ek het gebrand,” breek Oom Faan se stem my gedagtegang.
Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde staan ek verstar, wat moet ek doen? Ontplof dié gasbottel is ons almal moertoe. Uit die hoek van my oog sien ek Gunner is op pad na Oom Faan toe.
Meteens besef ek. Hier’s ander mense wat ook kan help. Jy’s ‘n joernalis. Jy moet foto’s neem. Ek word naar vir myself en vir die gedagte, maar forseer my hande om die kar se kattebak oop te sluit. Ek haal my kamera uit. My hande bewe, ek voel onhandig. In die agtergrond knetter en knars dit soos die hitte die vensters laat bars. Ek probeer dink watter verstelling op my kamera die beste gaan werk. Ek is “blank”.
Ek sien Oom Jan se skoondogter Melanie het ook opgedaag. Ek gil vir haar dat hulle moet wegtrek want die gasbottels kan enige oomblik ontplof. Tussendeur probeer ek foto’s neem. Iemand sê Melanie gaan vir Oom Faan hospitaal toe vat. Daar kan nie vir ‘n ambulans gewag word nie. Die storm binne in my bedaar effens, ek weet hy is in veilige hande. Maar waar is die brandweer? Hulle moes al lankal hier gewees het.
Die flikkerende rooi ligte kondig die aankoms van die eerste brandweerwa uiteindelik aan. “Julle moet passop daar is gasbottels in en langs die huis,” skreeu ek vir hulle. In die agtergrond verteer die vlamme jare se herinneringe. Elke sekonde wat verbytik is nog iets vir ewig weg.
Die skare drom saam, die water druk en brandweerwa se pomp gee probleme. Die omstanders help om oom Lappies se kar voor die motorhuis weg te stoot. In die verbygaan sien ek die ruit is stukkend geslaan. Natuurlik, tref dit my: die Polo se sleutel moet in die brandende huis hang. Alles gebeur nou vinniger. Die adrenalien pomp… My sintuie word oorweldig deur die rook en geraas. ‘n Gedeelte van die dak gee mee met ‘n onaardse geluid. “Hier’s Sam,” sê iemand.!
Dis Oom Jan-hulle se geliefde hond. Ek het skoon van hom vergeet. Hoe kan ek so nalatig wees? Darem het Gunner op sy voete gedink. Terwyl nog brandweerwaens aankom en die brand onder beheer gebring word, begin die realiteit insink. Al wat oorbly is die smeulende oorskot van verbrande herinneringe. Ek bel my vrou ure later vir die eerste keer. “Daar’s niks oor nie,” is al wat ek vir haar kan sê.
Ek stap uiteindelik by die ongevalle in. Daar lê Oom Faan. Sy welige snor is weggebrand… Sy gesig en hande is in verbande. Sy kuif is weggeskroei! Net sy oë steek uit. Sy stem kraak vreemd soos ‘n brulpadda s’n. “Het oom gas of rook ingeasem,” vra ek. “Nee,” sê hy.
“Ek sien darem oom kon oom se biere red,” grap ek in ‘n onsensitiewe en onvanpaste poging om die spanning in die vertrek te breek.
Hy probeer glimlag, maar die man met die flymskerp humorsin is nie daar nie. Die verpleegster skuif hom na ‘n ander vetrek. Terwyl ek terugry na die oorskot van die huis dink ek aan die lang pad van herstel wat vir Oom Jan en Oom Faan voorlê. Toe tref dit my. Ek het skoon van Oom Lappies vergeet. Al sy besittings is ook in die brand verwoes. Wat sou gebeur het as hy daar was?! Al wat ek weet dié driemanskap was nog altyd daar vir mekaar en hulle vriendskap gaan nou meer as ooit beproef word.



