Moord op Hansie laat stukkende harte agter
Nou moet sy ma, Magda Bronkhorst, sy suster Rada Mari en sy meisie Marikie Prinsloo die pad verder stap sonder hul breëskouer-staatmaker
Berig in Vaalweekblad se uitgawe van 24 Oktober 2018
Retha Fitchat
SASOLBURG. – Maandag se hartroerende troosdiens by Kompas-gemeente na die moord op Hansie Botha (26), het familie en vriende sekerlik gehelp om hul eerste tree op die lang pad na berusting te gee, maar nou is dit die taak van die drie geliefde “meisies” in sy lewe – ma Magda Bronkhorst, suster Rada Mari en sy meisie Marikie Prinsloo – om sonder hul breëskouer-staatmaker verder te gaan.
Hansie, wat as proseskontroleerder by Karbochem gewerk het, is vroeg verlede Woensdagoggend (17 Oktober) in die huis wat hy vir hom, sy ma en suster in Soetdoringstraat, Sasolburg gehuur het, deur rowers vermoor.
Mev. Bronkhorst en Rada Mari, wat saam met hul honde, Kaptein (’n boerboel) en Night (’n labrador), in een kamer geslaap het, het omstreeks 02:45 van die honde se geblaf en ‘n lig wat aangeskakel is, wakker geskrik. Die rowers, van wie een ‘n vuurwapen rondgeswaai het, was toe reeds in die kamer.
Hansie het vermoedelik weens die geraas wakker geskrik en na die kamer gestorm, maar kon die kamerdeur aanvanklik nie oopkry nie. Die handvatsel het afgebreek maar hy het op ‘n manier ingekom op dieselfde oomblik toe die boerboel een van die rowers aangeval en gebyt het. Die rowers het op die vlug geslaan met Kaptein en Night agterna, maar in die hardloop skote afgevuur wat Hansie in die bors getref het. Die koeël is vermoedelik deur sy hart en onder by sy arm uit voordat dit in die muur vasgeslaan het. Mev. Bronkhorst, ‘n geregistreerde suster, het dadelik noodbehandeling op haar seun begin toepas waar hy op die vloer gelê het, maar sê sy het eintlik dadelik geweet dat hy reeds gesterf het. “Ek is net dankbaar dat hy nie gely het nie,” sê sy.
Alles het so vinnig gebeur, maar dit sal haar altyd bybly hoe Kaptein teruggekom en sy baas se kop met sy neus probeer oplig en aan sy wang gelek het om hom te probeer “wakker maak”.
Paramedici het by mev. Bronkhorst oorgeneem in ‘n laaste poging om Hansie se lewe te red, maar dit was gou duidelik dat niks meer vir hom gedoen kon word nie. Die stil buurt het kort na die voorval gewemel van forensiese beamptes en polisielede wat op soek was na die moordenaars en bewysstukke, maar niemand is tot dusver aangekeer nie. Niks is in die voorval gesteel nie.
“Dit is vir ons wat vir Hansie lief was, ondenkbaar dat dié baie spesiale mens met sy pragtige, liefdevolle geaardheid doodgemaak is – vir niks,” sê me. Christina Stemmet, verloofde van Hansie se beste vriend, JP Gibson, wat Hansie se ma en suster die afgelope week in Sasolburg bygestaan het. “Hansie was ‘n opregte Christen en een van die wonderlikste mense op aarde. ‘n Mens kon nie help om vir hom lief te wees nie,” sê Christina.
Hansie se ma en suster is veral hard getref deur hul steunpilaar se heengaan. “Hy het my altyd Moemie genoem. Nooit mamma of ma nie, ek was Moemie. Hy was altyd so teer teenoor my en ek was so trots op hom. Ek sal altyd onthou hoe hy my met die grootste liefde en respek behandel het,” sê mev. Bronkhorst.
Vir Hansie se meisie van die afgelope agt maande, Marikie Prinsloo (17), is sy dood in dié stadium nog traumaties en baie moeilik om te aanvaar. Dié mooi donkerkop, ‘n graad 11-leerling aan die Hoërskool Akasia in Pretoria, staan Hansie se ma en suster ook tans by in Sasolburg.
Sy het hom op 9 Oktober, ‘n week voor sy dood, die laaste keer gesien toe hy haar na haar ouerhuis in Pretoria teruggeneem het ná ‘n gesinsvakansie saam met sy ma en suster.
“Hansie was my eerste kêrel en beslis my trouman. Hy sou sy laaste van enigiets vir iemand gee wat dit nodig gehad het. My hart is in duisend stukkies. Ek sal nooit weer vir iemand so lief kan wees nie. Gelukkig weet ek hy is veilig by Jesus se voete waar hy nou niks meer kan oorkom nie,” sê Marikie.
*********************
‘n Spesiale Facebook-blad is intussen deur Hansie se geliefdes en vriende in die lewe geroep ter herinnering aan Hansie en om verder bewustheid te skep oor geweldsmisdaad in Suid-Afrika. Lees die “post” hier onder en sluit gerus aan by die blad.
Hi almal dankie – ons het 122 likes in net ons eerste dag gegroei. Vat asb 5min van jou dag en share asb die page met almal op jou friends list. Ons wil n impak maak. https://www.facebook.com/StaanOpVirHansie/
En asb, as julle wil gehoor word oor die misdaad in ons land of net iets mooi wil sê oor Hansie of enige iemand wat dood gemaak is deur misdaad in ons land. Ons kan nie net langer stil bly en aangaan met ons lewe, te bang om uit ons huise te gaan, of pad af te loop nie. Ons is nie meer veilig nie. Moenie stil bly tot een van jou geliefdes in ‘n kis lê en dis te laat nie.




