NewsNews

Inwoners bekommerd oor bedrywighede by Phoenix Park

VANDERBIJLPARK. – Verskeie bekommerde inwoners van SE 2 het DA Raadslid Phillip Nothnagel die afgelope tyd geskakel oor bedrywighede wat in die noordelike gedeelte van Phoenix Park in Frikkie Meyer-boulevard aan die gang is. Sommige inwoners is erg bekommerd oor al die geskarrel en vrees die gerugte dat ‘n oornag-gastehuis daar gebou gaan word vir …

VANDERBIJLPARK. – Verskeie bekommerde inwoners van SE 2 het DA Raadslid Phillip Nothnagel die afgelope tyd geskakel oor bedrywighede wat in die noordelike gedeelte van Phoenix Park in Frikkie Meyer-boulevard aan die gang is.
Sommige inwoners is erg bekommerd oor al die geskarrel en vrees die gerugte dat ‘n oornag-gastehuis daar gebou gaan word vir belangrike regeringsbesoekers; of dat dit ‘n uitbreiding van Nkandla is; of dalk die begin van ‘n nuwe informele huisvestingsprojek of sokkerveld. Nog gerugte lui dat dit ‘n baan vir gebruik deur veldmotorfietsryers gaan word, of nog erger – dit is ‘n nuwe stortingsterrein!
Nothnagel wil al die inwoners verseker dat hulle nie bekommerd hoef te wees oor die toekoms van die park nie. Hy monitor die projek persoonlik om te verseker dat daar niks onbehoorliks aan die gang is nie.
Die projek is die breinkind van mnr. Braam Smit, ‘n bekende inwoner van die gebied. Hy is die een wat elke dag swoeg en sweet om die projek so spoedig moontlik te voltooi.
Nothnagel wil nie nou al die aap uit die mou laat nie en sy raad aan die inwoners is: “wag en sien”.
“Dit gaan ‘n fasiliteit wees wat nuttig deur inwoners gebruik sal kan word. Dit sal ook verseker dat die gebied as park behoue sal bly, teen geen koste vir die munisipaliteit nie,” sê Nothnagel.
“Die projek is tot op hede geborg deur Braam en ‘n aantal plaaslike ondernemings. Die organiseerders beoog om die fasiliteit op 5 September te open,” sê hy.
Enigiemand wat belangstel om meer inligting oor die projek te bekom, of om betrokke te raak as medeborg, is welkom om Braam of Phillip by die volgende nommers te skakel: (Braam) 083 997 7330 of (Phillip) 082 903 7822.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button