Jannie du Plessis – Vaalweekblad
SASOLBURG. – Die berugte ongeluk pad, die R57 tussen die Vaalrivier brug en Sasolburg langs die Bongani Mabaso EcoPark Natuurreservaat het weereens ‘n lewe geëis.
Dawie Els (46), lid van die Mac motorfietsklub het Vrydagaand 16 November net voor 23:00 met sy Kawasaki motorfiets gesterf toe hy in vreemde omstandighede, saam met ‘n rooi Toyota Corolla in ‘n ongeluk betrokke was.
Die bestuurder van die Corolla en sy dogter asook Dawie was albei in die rigting van Sasolburg op pad toe die ongeluk gebeur het. Volgens die bestuurder van die Corolla het Dawie van agter af sy voertuig genader en die volgende oomblik het albei bestuurders beheer verloor. Dawie moes waarskynlik eerste van sy motorfiets afgeval het waarna die motorfiets sowat 30m verder teen die heining van die Eco park gelê het. Die Corolla, met sy twee insittendes, het nog twintig meter verder langs die pad op sy dak te lande gekom. Die dogter van die bestuurder van die Corolla is deur paramediese personeel van ER24 en VEC op die toneel behandel en na die hospitaal geneem vir behandeling. Dawie is deur VEC paramediese personeel op die toneel dood verklaar.
Dawie se seun Marcelle, wat later op die toneel aangekom het, was saam met sy pa baie bekend in die liggaamsbou kringe in die Vaaldriehoek.
Die ongeluk word deur die Sasolburg polisie ondersoek.






