HealthLifestyleLocal newsNews

‘n Nuwe ‘Slag van Bloedrivier’ in Parys?

'Dié kanale was jare gelede ons veilige speelplek,' sê 'n leser

 

Foto’s van kanale vol bloed wat Vaalrivier toe spoel, is die afgelope paar dae reeds 1 700 keer deur Facebook-lesers gedeel. Die foto’s van stromwaterkanale langs ‘n pad, wat deur ‘n besorgde leser, Johan Lowe, op Facebook gedeel is, is glo in Parys geneem, met die byskrif dat die bloed vanaf ‘n slagpale-onderneming kom.
Heftige kommentaar van ander lesers is intussen op die plasing gelewer. “Waar is die gesondheidsinspekteur of bestaan daar ook nie meer so iets nie? Parys was altyd ‘n pragtige ou dorpie. Dis hartseer om als so te sien verval in chaos!,” skryf Marie Boshoff.
“Lê kriminele klagte teen die Munisipale Bestuurder in terme van die waterwetgewing,” skryf Dennis Pretorius.
Facebook-leser Ronnie Gray se raad is dat die department van gesondheid gekontak moet word sodat die skuldige swaar beboet kan word omdat mense se lewens en gesondheid in gevaar gestel word.
Ben Schippers beveel aan dat die Rooimiere op die skuldiges losgelaat moet word.
Christiaan Jansen van Rensburg skryf: “Ja-nee. So word daar na ‘n land se waterbronne gekyk. Die regerende party worry net oor hulself. En die grondwet is ‘n flippen sirkus. Miskien moet die UN ‘n bietjie inspeksie kom doen en self sien wat eintlik hier aan die gang is.”
Daleen Martens Swanepoel meen daar is geen verskoning vir dié soort besoedeling nie. “Nalatigheid, onbevoegdheid en die bevolkingsontploffing. Hou op aanteel en toelae betaal waardeur die wêreld doodgemaak word. Ons pragtige land is nou ‘n toilet vol #@# en steeds soek mense verskonings. Waarvoor betaal ons belasting? Hoe kan hulle so dom en onkundig wees en steeds dink dit is okei?”
Nicky Morrison, wat in Parys grootgeword het, sê kinders het destyds in daardie kanale gespeel. Wat nou daar aangaan is “disgusting en buite orde. Ek het grootgeword in Parys, en as kinders het ons in daardie einste kanale gespeel…”.
Verskeie vegetariërs het ook van hulle laat hoor en meen dat die bloedige tonele die gevolg is van mense se liefde vir vleis en dat hulle liewer na plantprodukte as voedselbron moet oorskakel.
Nog ‘n Facebook-gebruiker, Willie Pelser, sê egter die foto’s en bewerings is “snertstories”.
“Ek bly in Parys en weet jy wat, hier is nie eers ‘n slagpale nie! Die naaste slagpale is in Vredefort, 15 km stroom-af van Parys af! Maak seker jy post wat jy kan bewys of face die #@# wat jy gaan kry vir propoganda wat nie waar is nie!” waarsku Willie.
* Vaalweekblad se susterskoerant, Parys Gazette, het in die verlede reeds herhaaldelik berig oor bewerings dat ‘n groot hoeveelheid dierebloed in die Vaalrivier by Parys beland. Ons stel tans weer ondersoek in en sal binnekort volledig terugvoer oor die huidige situasie gee.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button