EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Gesin open hul erf en harte vir publiek om in liggiefees te deel

Die Strydomgesin van Sasolburg se Kersfeesliggies is gereed om vanaand aangeskakel te word!

Retha Fitchat

SASOLBURG. – Dié tyd van die jaar is daar ‘n behoorlike miernes van bedrywigheid by Uniestraat 30, want duisende Kersliggies moet skoongemaak en gereed gekry word vir vanaand, 1 Desember, se “groot aanskakel”.
Dit is vir meer as 10 jaar reeds ‘n instelling vir die Strydomgesin, Koos, Zenda, Thys, Od (Odette) en Shayne om hul huis en erf vanaf 1 Desember tot 31 Desember in ‘n towerwêreld van lig en kleur te omskep om die Kerstyd te vier. En al dié vreugde word nie vir hulself gehou nie: die hele Vaaldriehoek word genooi om in Desember na die liggies te kom kyk.
“Ons erf is gedurende Desember oop vir die publiek, gewoonlik tussen 19:00 en 21:00, en ingang is gratis. Ek weet nie hoeveel liggies ons het nie. Ek sê altyd dit gaan nie oor die hoeveelheid nie, maar oor hoeveel moeite en liefde mens insit, so ons weier om te tel!” sê Od.
Daar gaan vanjaar ook ‘n Kersvader, ‘n lewensgrootte slee, ‘n liggie Kersboom van vier meter, ‘n Betlehem-toneel en vele meer te sien wees.
Die Strydoms benut die geleentheid ook om lekkers en geskenke aan minderbevoorregte kinders te skenk.
“Ons deel gewoonlik lekkergoedpakkies uit en het verlede jaar ook doughnuts-, springmielies- en cupcakes-aande gehad, en as iemand iets ekstra skenk, dan deel ons dit ook uit. Ons het juis iemand gekry wat vanjaar ysies vir die kinders gaan skenk. As ons speelgoed kry, draai ons dit toe en gee dit ook uit,” sê sy.
Om alles nog meer opwindend te maak, bied die Strydoms ook ‘n kompetisie aan waarin die publiek interessante pryse kan wen. Een van die pryse is ‘n Kersboom-motief van een meter hoog, vol ropelight-liggies.
“Ons gaan dit weggee sodat een kind ook ‘n stukkie van ons vreugde huis toe kan neem en by sy of haar huis kan opsit. Ons doen wat ons doen om kinders se hartjies bly te maak. Die atmosfeer hier is gewoonlik besonders. Elke ‘wow’ maak dit die moeite werd vir ons!”
Besoek die gesin se Facebookblad: “Unie Straat 30 – Sasolburg” om meer oor die liggies en kompetisies te lees.

Die Strydomgesin, bestaande uit Koos, Zenda, Thys, Odette en Shayne van Uniestraat 30, Sasolburg, by die lewensgroot Kersvader wat vanjaar ook deel van die Kersfeesskouspel op hul erf gaan wees.Die Kersboom van sowat 4 meter gaan vanjaar weer ‘n groot trekpleister wees wanneer die liggies op 1 Desember (vanaand) aangeskakel word.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button