Tien jaar hardepad vir twee rowers
VANDERBIJLPARK. – Danksy die flink optrede van ‘n oud-polisieman is twee rowers wat in November 2013 ‘n vrou in haar huis in Mozartstraat oorval, gewurg en probeer beroof het, verlede week tot tien jaar tronkstraf elk gevonnis. Die mans, Tsietsi Tlale en Stone Duncan Thabethe, het die vrou, wat versoek het om nie geïdentifiseer te …

VANDERBIJLPARK. – Danksy die flink optrede van ‘n oud-polisieman is twee rowers wat in November 2013 ‘n vrou in haar huis in Mozartstraat oorval, gewurg en probeer beroof het, verlede week tot tien jaar tronkstraf elk gevonnis. Die mans, Tsietsi Tlale en Stone Duncan Thabethe, het die vrou, wat versoek het om nie geïdentifiseer te word nie, die aand omstreeks 21:00 in haar huis oorval, waar sy met ‘n oop skuifdeur in haar TV-kamer op die bank gelê en TV kyk het.
Sy het gegil toe die mans by die deur inbars. Een het bo op haar gespring en haar begin wurg, terwyl die ander een haar bene vasgehou het. Die agterste buurman, oud-polisieman Hampie de Kock, het die gille gehoor en kon vanaf sy dubbelverdieping huis sien hoe die mans op haar sit. Hy het ‘n vuurwapen gaan haal en op hulle geskree, waarna hy drie skote gevuur het. Albei mans het weggehardloop en oor die geëlektrifiseerde palissadeheinings gespring. Die klaagster het die hek met bloedbelope oë en in ‘n halwe beswyming weens die byna-verwurging, vir die buurman oopgemaak. Die polisie is gekontak en het ‘n verdagte voertuig waarin ‘n swart vrou was, in die omgewing aangetref. Hulle het die vrou na die toneel geneem, waar die klaagster haar uitgeken het as ‘n huishulp wat sy ‘n jaar vantevore ontslaan het weens diefstal.
‘n Selfoon is ook op die bank in die huis gevind, wat later met een van die verdagtes verbind is. ‘n Koevoet wat aan die misdadigers behoort het, is ook buite die deur gevind.
Die twee verdagtes is twee maande later in hegtenis geneem en die klaagster het albei op ‘n uitkenningsparade geïdentifiseer.
Streeklanddros Button het tydens vonnisoplegging gesê dat daar daagliks geweldsmisdade in die Vaaldriehoek plaasvind en dat die publiek nie meer vertroue in die polisie en die regstelsel het nie. Hy het gesê hy beskou dit as sy plig teenoor die samelewing om ‘n swaar straf op te lê en het albei beskuldigdes tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Me. Lekgetho was die staatsaanklaer. – rfichat@media24.com



