Vrou aangekla van dieremishandeling
VANDERBIJLPARK. – Daar is min dinge wat die gemeenskap so ontstel soos diere wat mishandel word, wat nog te sê van diere wat vir onwettige en wrede gevegte gebruik word. Rina Joubert (47) van ’n kleinhoewe by Rietspruit het op 24 Augustus in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn op aanklag van dieremishandeling. Dit volg nadat …

VANDERBIJLPARK. – Daar is min dinge wat die gemeenskap so ontstel soos diere wat mishandel word, wat nog te sê van diere wat vir onwettige en wrede gevegte gebruik word.
Rina Joubert (47) van ’n kleinhoewe by Rietspruit het op 24 Augustus in die landdroshof in Vanderbijlpark verskyn op aanklag van dieremishandeling. Dit volg nadat die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) verlede jaar 16 veghonde (pitbull terriers) in ’n baie swak fisieke toestand op haar perseel gekry en weggeneem het.
Luidens ’n persverklaring van die NDBV was die honde ondervoed, hulle het oop sere gehad, van die honde se tande was gebreek, terwyl een se kakebeen ook gebreek was. Die honde het ook baie ou sere gehad wat mettertyd genees het, wat daarop dui dat hulle moontlik in onwettige hondegevegte betrokke was, terwyl sommige oortrek was met sere en infeksie dat hul beendere gewys het. Die omstandighede waaronder die diere aangehou is, was ook baie swak.
Hul waterbakke was vuil, die diere was vol vlooie, hul kos was vrot en die meeste was aan kettings vas.
Die meeste van ons is salig onbewus van onwettige hondegevegte en onwettige dierehandel na ander lande.
Die wreedheid wat hiermee gepaard gaan is onmenslik en die meeste van die tyd veg die honde teen mekaar tot een wen, wat beteken die ‘verloorder’ is so erg beseer dat die dier doodgemaak moet word of die hond vrek reeds gedurende die geveg.
Rina Joubert se man, Fanie is reeds in 2013 aan dieremishandeling skuldig bevind nadat hy in 2011 by onwettige hondegevegte in Plettenbergbaai betrokke was.
Dieselfde jaar is daar nog ‘n saak van dieremishandeling teen hom aanhangig gemaak nadat 10 pitbull-honde in haglike toestande op sy perseel vasgeketting was. Hy het skuldig gepleit en is gevonnis tot drie maande tronkstraf, opgeskort vir twee jaar of ’n boete van R2 500. Rina het skuld ontken. Die saak sal op 29 Oktober hervat word. Joubert is op waarskuwing vrygelaat.




