Trane van vreugde
MEYERTON. - Om uit te vind dat jou kind kanker het, is waarskynlik een van die moeilikste realiteite om te aanvaar. Skielik is die pad vorentoe vol onsekerheid, maar jy as ouer moet sterk bly, want jy kan nie nou ineenstort nie. Saam met dié diagnose kom ook onmenslik baie uitgawes, en almal weet dat mediese fondse sommer vinnig uitgeput raak.
Die Kriel-gesin van Rothdene het die afgelope naweek lewensbelangrike tjeks ontvang, na daar wyd en syd fondse ingesamel is om klein Karla se mediese onkostes te betaal. ‘n Totaal van R321 315 is binne twee maande ingesamel en alles het begin met die versiering van bome in die Vaaldriehoek ten bate van Karla. Dié projek is geloods deur Desiré Stalmann en Jenny Louw, wat albei ook kanker gehad het. Desiré het Karla ontmoet toe hulle behandeling ontvang het. Toe Desiré en Jenny vir hul opvolg ondersoek gaan om te bepaal of hulle nog skoon toets, het hulle uitgevind klein Karla se kanker is terug en dadelik weggespring om fondse in te samel. Hulle het ‘n totaal van R100 000 ingesamel. Verder het Good Morning Angels R200 000 geskenk, Port Edward Rate Payers Association R9 000, Maxine’s R3 640 en Midvaal Hospitaal R8 675.

Karla is in November 2011 met kanker in beide haar niere gediagnoseer. Sy het behandeling ontvang en in Januarie 2014 is die gewasse verwyder. Haar kanker is baie aggressief en sy moes verdere bestraling ontvang, maar in Oktober 2014 het Japie en Laurika (Karla se pa en ma) die goeie nuus ontvang dat Karla skoon is. Ongelukkig het Karla se kanker teruggekom en sy het in April 2017 weer die stryd teen kanker aangesê. Haar linker nier is verwyder en ook die helfte van haar regter nier. In September 2018 het dokters bevestig dat Karla se kanker versprei het. Haar ouers het navorsing begin doen en op ‘n behandeling in Rusland en Mexiko afgekom wat moontlik hul kind se lewe kan red, maar dié behandeling kom teen ‘n prys.
“Onder omstandighede gaan dit goed met Karla. Haar veggees is ongelooflik en ons bly op ons knieë. Ons wil net aan elke persoon baie dankie sê wat ons as gesin ondersteun met al die fondsinsamelings wat gehou word, boodskappe, ondersteuning en gebede. Dit hou ons staande,” sê Laurika.

Groot dank gaan aan die volgende individue en besighede wat bygedra het tot die sukses van die fondsinsamelings: Gerhard van der Westhuizen en Rayno Strauss wat die geld vir Good Morning Angels ingesamel het, Cansa, Midvaal Hospitaal, dr. JH Stalmann, Street Cakes en Cupcakes, dr. Van Heerden en Vennote, Ink Redible Print and Film, Inspired Financial Planning, Makitie Party, Footprints, dr. Jacqueline Goldswain, Mathilda Scheepers, Audi Vereeniging, Desire Stalmann, Jenny Louw, Louw Djurak en Vennote, dr. Nell, Suzanne Rood, Midvaal Apteek, Tax Consulting van Braynston, Licher van Bruggen (ML Administration), Theresa Rock (Rock n Audio), René Jansen van Vuuren, Naddy van Parys, Venieta en Driekus Dreyer van Pretoria, Heidi en Heinrich Fouche, Bianca en Warren Gomez, Laurika en Japie Kriel, Martie Berg, Gerhard, Joseph Thakeng, Port Edward Ratepayers Association en Maxine’s in Margate, Coffee Excellence, My Little Bakery MCC Kerk asook elke skool, individu en besigheid wat deelgeneem het aan die projekte en Wes Vaal Menlyn wat ‘n voertuig aan die gesin gegee het om te gebruik.



