LifestyleLocal newsNews

Liefde blom na halfeeu se vriendskap

'Wat ‘n voorbeeld vir ander om te wys dat die liefde steeds kan blom en voortduur op ‘n hoër ouderdom'

 
Retha Fitchat

SASOLBURG. – ‘n Bekende Vanderbijlparkse sakeman, mnr. Luc van Raay (85), wie se vrou hom vroeër vanjaar ontval het, is op 3 November met mev. Elza van Goethem (82) in die huwelik bevestig.

Wat dié huwelik uitsonderlik maak, is dat die Van Raays en Van Goethems meer as 50 jaar huisvriende was sedert hulle in die 1950s na Suid-Afrika geïmmigreer het.

Luc en Dine van Raay het in 1958 as ‘n jong egpaar uit Holland na Suid-Afrika gekom, slegs twee jaar nadat Billy en Elza van Goethem hul moederland, België, vir Suid-Afrika verruil het.

Soos duisende ander Europeërs in die jare Vyftig, het die twee egpare hulle in Vanderbijlpark gevestig, waar hulle hul deel gedoen het om die dorp in die opvolgende dekades ekonomies en kultureel te help opbou.

Die twee jong egpare het mekaar ontmoet toe hulle langs mekaar in die woonstelkompleks oorkant die destydse Vanderbijlpark-hospitaal gewoon het. Die vriendskap het die toets van die tyd deurstaan en meer as 50 jaar voortgeduur.

Luc, nou reeds 10 jaar op pensioen, het sy sakeonderneming, Springbok Auto General sowat 25 jaar in Vanderbijlpark bedryf terwyl Billy in Sasolburg naam gemaak het met sy loodgietersonderneming, wat hy meer as 30 jaar bedryf het. Hy is in 2013 oorlede.

Luc en Dine was net soos die Van Goethems vir langer as 55 jaar getroud toe Dine vroeër vanjaar oorlede is. Die gemis aan ‘n geliefde lewensmaat was groot vir sowel Luc as Elza, wat na mekaar begin uitreik het om die leemte te vul.

Hul vriendskap het mettertyd in liefde omgesit en op 3 November het hulle mekaar in die Rooms-Katolieke Kerk in George Greystraat, Sasolburg, die regterhand gegee.

“Albei smile van oor tot oor, met ogies wat blink. Dit was ‘n belewenis vir albei. Hul besluit om te trou het vinnig gekom – alles is binne tien dae gereël en gedoen. Wat ‘n voorbeeld vir ander om te wys dat die liefde steeds kan blom en voortduur op ‘n hoër ouderdom,” sê Sylvia van Goethem, Elza se skoondogter.

Luc het vyf seuns, 12 kleinkinders en twee agterkleinkinders. Elza het twee kinders (’n dogter en seun), vier kleinkinders en twee agterkleinkinders. Saam-saam het hulle dus nou 16 kleinkinders en vier agterkleinkinders. Die egpaar het hulle in ‘n meenthuis in Sasolburg gevestig, waar hulle uitsien na ‘n gelukkige oudag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button