Skokonthulling: Sanger Chris Chameleon insinueer Bles Bridges was sy pa
'Ek het lank genoeg stilgebly,' sê sanger
Is die talentvolle sanger Chris Chameleon die biologiese seun van die afgestorwe Vaaldriehoekse sanger Bles Bridges?
Chameleon het gister behoorlik ‘n kat in die hoenderhok losgelaat met ‘n inskrywing op sy Facebookblad waarin hy insinueer dat Bles Bridges sy biologiese pa was, maar hom nooit as kind erken het nie.
Bles was ‘n geliefde Suid-Afrikaanse sanger wat in die Vaaldriehoek gebore is en grootgeword het – ‘n ware Vaaldriehoekse verhaal van “rags to riches”. Hy was veral bekend vir liedjies soos Ruiter van die Windjie en ‘n vertaalde weergawe van die Ierse treffer, Maggie.
Bles se sangloopbaan het ‘n hoogtepunt in die 1980’s en 1990’s bereik en hy het berug geraak vir sy flambojante, rykmanslewe en later ook vir sy buite-egtelike verhouding met ‘n langbeen-blondine. Hy word beskou as Suid-Afrika se eerste “super-ster” in die musiekbedryf.
Bles het in 2000 in ‘n motorongeluk naby Bloemhof gesterf.
Hier is die plasing op Chris Chameleon se Facebookblad wat behoorlik ‘n opskudding veroorsaak het:
Hoewel dit nie iets is wat meeste mense van hulle helde of ikone wil glo nie, is die waarheid van die saak dat daar agter die glans, vriendelikheid, talent, charisma en joviale uitbundigheid ‘n donkerte skuil in elke kunstenaar wat ek persoonlik ooit ontmoet het. Gaan krap maar, jy sal by al hierdie glanspersoonlikhede óf losbandigheid en/of wreedheid en/of onverantwoordelikheid en/of meedoënloosheid, ens vind.
Ek loop al jare met my eie donker geheim rond.
Ek is nou getroud. Ek hoop om ‘n pa te word. Ek het die punt bereik waar ek voel ek die boek op my verlede moet toemaak en die skoon bladsy van my toekoms moet optrek.
Van al die ondeugde van glanspersoonlikhede en kunstenaars is die een wat my, persoonlik, die diepste raak mans wat kinders verwek en dan nie pa staan vir hulle dade nie. Die tyd is nou, die waarheid moet aan die lig gebring word.
Ek het lank genoeg stil gebly.
As enigste seun van ‘n enkelmoeder moes ek as kind dikwels die smaad van “vaderloosheid” verduur. Dis erg genoeg om by Warmbad of Rustenburgkloof te staan en te kyk hoe ander seuntjies se pa’s in die swembaddens hulle in die lug opskiet en te wonder wat jy gedoen het dat jou pappa nie daar is om jou ook op te skiet nie. Dis erg genoeg om altyd die laagste houtwerk punt te kry en te sien hoe ander seuns met ‘n beter handvaardigheid maar ook die onmisbare tekens van hul pa’s se hulp hulle aanskoulike projekte langs jou lendelam hout windpomp neersit om dan beoordeel te word deur ‘n houtwerk-onnie wat nie verstaan hoeveel moeite ek, my ma en my sussie gehad het om daardie stukkie brouwerk so ver te kry nie.
Maar erger as al hierdie dinge is wanneer jy gespot word dat jy soos iemand, ‘n bekende lyk, terwyl jy in jou hart die vernederende waarheid alleen dra.
En nou, het julle of julle ouers dalk hierdie album in die 80’s geniet?

************************
Só antwoord Sunette Bridges, Bles se dogter en self ‘n bekende sangeres, gisteraand op haar Facebookblad na aanleiding van Chameleon se insinuasie:
Ek staan vanoggend op, sien uit na my eerste koppie koffie en gesels met my man oor ons planne vir die dag… Daar is ‘n skildery wat ons moet ophang en nog ‘n paar goedjies wat ek wil bak voor al die kinders huis toe kom vir Kersfees. Ek kom sit op my stoep, steek ‘n vuurtjie in die kaggel aan – dis koud hier by ons – maak my rekenaar oop om die dag se nuus so saam met my koffie in te neem. Wat vandag “nuus” sou wees, sou ek nie in my wildste drome kon dink nie. Skielik is dit terug, daai aaklige bewerasie in my binnegoed en ore wat suis, lam arms. Ek het lanklaas so gevoel – laas toe ek nog in Suid-Afrika was en elke Sondag met ‘n pyn op my maag wakker geword het oor wat vandag weer in Rapport gaan staan… Ek het vir 30 jaar so geleef. Ek doen nie meer nie. Ek leef net. Ma vir my 5 kinders. Vrou vir my man.
My hart klop in my keel. Wat moet ek sê? Moet ek iets sê? Ek lees al die kommentare. Staan op, loop ‘n draai. My Ma.
“Here…” bid ek, “…laat sy net okay wees!”
Ek vra haar… Sy antwoord:
“Ek is honderd present Sustertjie. Pers maak my net mal. My foon hou nie op lui nie. Wat wil hulle hê moet ek sê?”
Vra ek ook… WAT wil julle hê moet ons sê? …oor iets waarvan ons niks weet nie, nog nooit, tot vandag, gehoor het nie, wat ons, soos julle, op Facebook moes lees? Nie ‘n oproep of ‘n briefie in die pos. Nie ‘n versoek vir ‘n koppie koffie en ‘n gesels nie. Niks. Net ‘n Facebook inskrywing wat nou soos ‘n veldbrand versprei, tesame met duisende skelwoorde, beledigings, beskuldigings oor iets waaraan ons nie skuld dra nie, wat ons nie eers die feite van ken nie, wat ons nie kan bevestig of weerlê nie. …soos ‘n vuishou wat jy nie sien kom het nie, ‘n mes deur jou hart…
Ek lees Chris Chameleon se “hartseer” verhaal weer en weer. Probeer sin maak daaruit. Ek gaan lees oor hom. Waar is hy gebore en wanneer? Ek sien hy is 13 maande jonger as ek. Gebore in Johannesburg in 1971. Waar was ons in 1971? Ons het in Rothdene naby Meyerton gebly. Ons was arm. My Pa, Lawrence John Gabriël Bridges, het in ‘n blou oorpak in ‘n fabriek gewerk. “Bles Bridges” het toe nog nie eens bestaan buiten in my Pa se drome en die sterre in sy oë nie. Ek lees hoe Chris skryf van sy skewe windpomp wat hy en sy ma en sy sussie gemaak het. Wie was sy sussie se pa en waarom het hy nie help bou aan die windpomp nie? …of was hy ook “afwesig”? Wie was sy ma in 1970 toe sy, volgens Chris se groot openbaring, klaarblyklik in ‘n buite-egtelike verhouding was met ‘n getroude man wie se vrou by die huis was met ‘n 3-maande-oue baba? Hoe lank weet hy al? …of het “Bles Bridges” eers sy pa geword toe hy “Bles Bridges” geword het? Te veel vrae. Te min antwoorde.
Ek ken nie vir Chris Chameleon nie. Het hom wel al ontmoet. Dit was onaangenaam. Hy was ongeskik en woedend oor die spieëls in sy kleedkamer nie met lappe toegegooi was nie. Hy hou nie van spieëls nie, maar nou staan ons almal voor een – onbedek vir die wêreld om te sien en vir ons om in te kyk. In die spieël voor my sien ek myself, vir Victor en my Ma soos ons nou al vir meer as 18 jaar is. My Pa is nie daar nie. Lankal nie meer nie. Ek sien my Ma se trane, maar ook haar Vrede. Hierdie is nie haar stryd of storm nie. Dis ook nie my of Victor s’n nie. Ek weet nie wie staan almal voor Chris se spieël nie en ook nie wat hy sien as hy daarin kyk nie. Die is sy stryd, sy “openbaring”. Dis sy verhaal wat hy kan inkleur soos hy wil – Chameleon wat hy is. Niemand is daar om sy verhaal te betwis nie. Ons gaan ook nie.
Chris, dis jammer dat jy gekies het om nie met ons te praat nie. As die jou idee is van ‘n pad tot die een of ander “genesing”, is ek bly vir jou. Dat ons nou ‘n prys moet betaal vir jou “vrede” is ook “okay”. Dat jy nie my 70-jaar-oue Ma ontsien het of vir ‘n oomblik gedink het wat dit aan haar en haar “vrede” gaan doen nie, is absoluut AL waaroor ek vandag ontsteld is. As Bles Bridges jou pa is, geluk. Hy is dood. Sy graf is in Vanderbijlpark. Ek stel voor jy vat rose. Rooies. …en gaan soek jou vrede daar… as daar so iets te vinde is op hierdie aarde.
Sunette
***************************************************
Bles Bridges se seun, Victor, het by navraag aan Maroela Media gesê Chameleon is welkom om met behulp van ‘n bloedtoets te bewys dat Bles Bridges sy biologiese pa was.
“En indien dit dan uitkom dat Chameleon my (half)broer is, is dit doodreg. Ek wou nog altyd ‘n broer gehad het,” sê Victor. Hy sê hy betwyfel dit egter dat sy pa sy lewe lank ‘n kind van hom sou ontken.
Chameleon se bestuurder, Denise Barnes, wou tot dusver nie kommentaar op die sanger se Facebook-inskrywing lewer nie.



