Local newsNationalNews

Ma en seun sterf saam op pad na skaakkampioenskappe

"Rus sag en weet ons was vreeslik lief vir julle," sê Sedibeng Skaak

SASOLBURG. – Die skoolgemeenskap van Emmanuel Private School in Vanderbijlpark is in rou na die dood van hul geliefde sport-koördineerder, mev. Sarina van Zyl, en haar 11-jarige seun, Rico.
Sarina en Rico het omstreeks 07:00 Sondagoggend (16 Desember) op die R59-snelweg in ‘n kop-teen-kop botsing tussen Sasolburg en Vereeniging naby die Taaibosspruit, gesterf.
Sarina en Rico was onderweg na die SA Nasionale Junior Skaakkampioenskappe by die Birchwood Hotel in Johannesburg, waar Rico sou deelneem.
Een insittende van die ander voertuig het ook gesterf, en twee vroue is ernstig beseer. Een van hulle is met ER24 se Oneplan-noodhelikopter na ‘n Johannesburgse hospitaal vervoer.
Sarina, wat in die Vaaldriehoek grootgeword en aan Hoërskool Vereeniging skoolgegaan het, was sedert April vanjaar aan Emmanuel Private School verbonde. Sy was volgens haar kollegas ‘n baie vriendelike, gelowige en geliefde mens wat uit haar pad gegaan het om goed te doen aan ander. Sy het gelewe vir haar kinders.
Sarina se dogtertjie, Zanika (8), was nie ten tyde van die botsing in die voertuig nie omdat sy die dag by haar ouma in Vanderbijlpark gekuier het.
Volgens Erika Honiball, ‘n kollega, is Sarina se voormalige man en pa van haar kinders, Jaco van Zyl, ook minder as ‘n jaar terug oorlede.
Die organiseerders en deelnemers aan die nasionale junior skaakkampioenskap was Sondag erg geskok toe die nuus oor Sarina en Rico se dood deur een van die beamptes aan hulle oorgedra is. Die kampioenskap is met ‘n stilte as huldigingsgebaar aan Sarina en Rico, geopen.
Sedibeng Skaak, waarvan Rico ‘n lid was, betreur die ma en seun se dood in ‘n inskrywing op hul Facebook-blad. “Rus sag en weet ons was vreeslik lief vir julle,” lui die inskrywing.

Die organisasie het sy diepste meegevoel met die familie en vriende betuig en gesê ‘n skaakbord sal dwarsdeur die skaakkampioenskapsweek ter nagedagtenis aan Rico oopgehou word.
Die begrafnisreëlings vir Sarina en Rico sal later die week deur hul familie bekend gemaak word.

Een van die beamptes dra die doodstyding oor aan deelnemers by die SA Nasionale Junior Skaakkampioenskappe wat dié week in Johannesburg plaasvind.
Die skaakkampioenskap is met ‘n paar oomblikke van stilte ter nagedagtenis aan Surina en Rico geopen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button