Chameleon verduidelik waarom hy ‘Bles-bomme’ gelos het
Na 'n paar dae waarin die sanger Chris Chameleon se insinuasies op Facebook, dat Bles Bridges sy pa was, soos 'n veldbrand versprei het, het Chameleon vandag in 'n video van meer as 40 minute verduidelik waarom hy die "bomme" laat afgaan het.
Na ‘n paar dae waarin Chris Chameleon se insinuasies op Facebook, dat die oorlede Vaaldriehoekse sanger Bles Bridges sy pa was, soos ‘n veldbrand versprei het, het Chameleon vandag in ‘n video van meer as 40 minute verduidelik waarom hy die “bomme” laat afgaan het. Hoewel hy nooit reguit gesê het dat Bridges sy pa was nie, het hy in sy plasings sterk op so ‘n moontlikheid gesinspeel.
En is Bles Bridges nou sy pa of nie? Blykbaar nie. Chameleon sê sy biologiese pa se naam was Dawid en hoewel hy hom nooit geken het nie, voel hy net liefde vir die man wat hom verwek het. Hoewel sy biologiese pa reeds oorlede is, glo Chameleon dat hy eendag in die hiernamaals ‘n geleentheid gaan kry om hom te ontmoet.
Chameleon sê daar is ‘n baie goeie rede vir die plasings, wat baie mense die afleiding laat maak het dat hy bedoel het Bles Bridges was sy pa.
Chameleon sê ons leef in ‘n wêreld waar mense nie krities lees nie, nie krities dink nie en nie ‘n wag voor hul mond sit nie. Daar is ander mense wat intens bewus is van dié menslike gedrag. Dit word gebruik om die wêreld ‘n gevaarlike plek te maak. Op dié manier kan mense teen mekaar opgesteek word – byvoorbeeld verskillende rasse, of gay en straight mense teen mekaar, sê Chameleon.
Dit kan voorkom word deur krities te lees. Hy sê daar is mense wat opsetlik waninligting versprei en ‘n verkeerde boodskap oordra – en hulle weet presies hoe die publiek gaan reageer. Hulle plaas brokkies selektiewe inligting hier-en-daar en weet die publiek gaan die gapings met hul eie gevolgtrekkings invul. “In die proses maak dit die samelewing verskriklik gevaarlik,” sê Chameleon.
“Ek wil vir julle sê: Leer om te LEES. Moenie gevolgtrekkings maak uit enigiets anders as feitelike gegewens nie. Doen selfondersoek. Moenie meegesleur word in die sensasionele histerie nie.”
Hy sê hy het vooraf geweet hy gaan homself ongewild by baie mense maak met sy plasings oor Bles, “….maar as dit die prys is wat ek moes betaal om ‘n boodskap uit te kry, then so be it.”
Die punt wat hy wou maak is dat mense ter wille van vrede, liefde en veiligheid van ons sameling alle inligting meer krities moet beoordeel. “Gaan net op feite. Moenie dat ouens wat weet wat aangaan, julle voorspelbare gedagtes stuur in die rigting van konflik nie. Dit is maar wat ek probeer doen het,” sê hy.
Hy het diegene wat kalm en logies op sy plasings gereageer het, geloof – byvoorbeeld Bles Bridges se seun, Victor, wat heel verantwoordelik voorgestel het dat ‘n DNS-toets gedoen moet word en as Chameleon dan sy broer blyk te wees, hy dit so sou aanvaar omdat hy nog altyd ‘n broer wou hê.
Terugskouend is Chameleon nie spyt dat hy die Bles-insinuasies op Facebook geplaas het nie en sê hy sou dit weer doen – “hoewel hier-en-daar dalk effens anders”. Hy het glo maande gelede reeds daaraan begin dink om so ‘n sosiale eksperiment te doen om sy punt te bewys.
Hy sê hy is baie lief vir Bles Bridges se musiek en “gym” selfs op die maat daarvan.
Volgens Chameleon is hy (vermoedelik deur koerante of tydskrifte) geld aangebied om sy “verhaal” te vertel. Die hoogste aanbod was R75 000. Hoewel hy dit oorweeg het en dan die geld vir ‘n verdienstelike saak soos kankerbestryding sou gee, het hy daarteen besluit en liewer die verduidelikende video op sy Facebook-blad geplaas.
Chameleon sê hy het meer reaksie op sy “Bles-plasing” gekry as wat hy nog ooit op sosiale media gekry het. Selfs meer as met die vrystelling van ‘ n nuwe album. Hy skryf dit toe aan die hendendaagse “slagoffer-kultuur” waar nuus oor uitnemendheid en prestasie afgeskeep word ter wille van meer sensasionele berigte oor mense wat op een of ander manier “victims” is. Hy noem ook dat wie sy biologiese pa was, ‘ n persoonlike saak is wat eintlik niks met ander mense te doen het nie.
Hy sê hy het die Facebookplasings met sy ma bespreek nadat die “Bles-bomme” reeds ontplof het, maar dat sy nie kwaad is nie. “Ek gee nie om nie. Ons weet mos wat gebeur het. Jy weet mos wie jou pa is,” het sy glo aan hom gesê.
Chameleon sluit sy video af met seënwense vir ‘ n veilige en vreedsame Kersfees vir almal.



