Opdatering: Regsgemeenskap geskok deur moord op bekende prokureur-sakeman
Bekende voormalige prokureur Eric Lyell se liggaam in rivier gegooi na moord

VEREENIGING. – Die regsgemeenskap in die Vaaldriehoek is vanoggend, Sondag 13 Januarie 2019, geskok nadat nuus oor die moord op ‘ n jarelange prokureur van Vereeniging, mnr. Eric Lyell, bekend geword het.
Mnr. Lyell is vermoedelik reeds Vrydagaand vermoor en sy liggaam daarna in die Vaalrivier gegooi. Sy selfoon is glo gister (Saterdag) in ‘ n plaaslike township gevind. ‘n Soektog is op tou gesit en sy liggaam is vanoggend in die rivier gevind.
Verskeie gerugte doen tans die rondte, soos dat mnr. Lyell Vrydag vanaf ‘ n plaaslike winkelsentrum ontvoer is, maar dit is tans net hoorsê. Geen bevestiging hiervoor is tot dusver beskikbaar nie.
Vaalweekblad het nie-amptelik verneem dat ‘n familielid van ‘n werknemer van mnr. Lyell ondervra gaan word weens sy moontlike betrokkenheid by die moord.
Meer inligting volg sodra ‘n amptelike verslag van die Polisie af ontvang word.



