Photo GalleriesSportSportSport

Ruann ‘n man met ‘n plan

Ettienne van Rensburg MEYERTON. – Ruann Visser, die Suid-Afrikaanse swaargewig-bokskampioen, is ‘n man met ‘n plan. Hoewel hy beplan om teen die einde van 2019 onder die top 20 swaargewigte in wêreldboks te tel, is hy nie oorhaastig nie. Hy gaan dié olifant een happie op ‘n slag verorber. Die volgende tree op die 28-jarige …

Ettienne van Rensburg

MEYERTON. – Ruann Visser, die Suid-Afrikaanse swaargewig-bokskampioen, is ‘n man met ‘n plan.

Hoewel hy beplan om teen die einde van 2019 onder die top 20 swaargewigte in wêreldboks te tel, is hy nie oorhaastig nie.

Hy gaan dié olifant een happie op ‘n slag verorber.

Die volgende tree op die 28-jarige Meyertonner (14-1-0) se wenpad sal op 10 Februarie in die Sun Arena Time Square Casino in Pretoria gegee word wanneer hy  Elvis “The Bulawayo Bomber” aandurf.

Die 35-jarige Moyo (8-5-2) word deur Visser as een van die beste swaargewigte in Afrika bestempel en voorsien dat die geveg wat oor 10 rondes beslis gaan word, ‘n mededingende affêre gaan wees.

“Hy is spoiler en hy wag vir een hou om die geveg te beëindig. Sy gevegstel pas in by myne.

“Hy is nie baie aktief in die kryt nie en ek gaan hom weghou met my reguitlinker,” sê Visser.

Volgens Ruann is Elvis se gevegrekord bedrieglik, aangesien al sy nederlae teen goeie boksers was wat hoog op die ranglys is. Hy het ook al verskeie EFC MMA-swaargewig gevegte op sy kerfstok en is geen vreemdeling vir drukkoker situasies in die kryt nie.

“As ek die geveg wen, behoort ek op te skuif na die wêreld se top 50 swaargewigte. Ek is tans 71ste in die wêreld.

“Ons beplan nog so drie gevegte vir die jaar. My doelwit is om 2019 onder die top 20 af te sluit,” sê die Vaaldriehoeker.

Die Vaal se rooikop-reus staan 2.07m in sy sokkies en weeg 120kg terwyl sy teenstander 1.86m lank is en 120kg weeg. Visser-hulle en sy Amerikaanse afrigter Ali James Bashir het ook slim te werk gegaan met die uitsoek van sy skermmaats.

Luke “Sergeant” Sutherland, Osborne Machimana, Joshua Pretorius en Juan Roux is almal Moyo se lengte en bou. Machimana is ‘n voormalige SA-kampioen en is baie ervare.

“Ek voel sterker en beter as verlede jaar. Ek dink ek is nou naby aan my prime. Ek is nou 28 jaar oud en dinge begin nou rigting kry,” gee hy te kenne.

* The Battle of the Warriors 3 skop op 10 Februarie om 12:00 af. Kaartjies is by Computicket vanaf R100 beskikbaar. Tienmantafels is teen R5 000 beskikbaar. Vir tafelbesprekings en verdere inligting, kontak Juanita by 064 641 2445. Die perskonferensie vir die geveg vind Woensdag 23 Januarie om 12:00 by Sun Arena Time Square plaas.

Die gevegrooster vir Battle of the Warriors 3 is:   Elvis Moyo vs Ruann Visser; Luke Sutherland vs Justice Siliga;  Joshua Pretorius vs Kizito Rumhanye; Chris Thompson vs Lebo Moshitoa. Denis Mwale vs Noah Chikwambane; Valentine Mutunda vs Denys Lazarev en Dmytro Shcherbyna vs Simon Dladla.

Related Articles

 
Back to top button