Hartseer nuus – Kobus van Dyk verloor sy stryd
Sterf vanoggend (25 Januarie) weens hartaanval of bloedklont
Mnr. Kobus van Dyk van Sasolburg, wat vroeër die week ‘n hoërisiko operasie moes ondergaan as laaste uitweg om die bloedtoevoer na die stompie van sy geamputeerde been te probeer verbeter en sodoende sy intense pyn te verlig, het vanoggend sy stryd verloor.
Vaalweekblad se innige simpatie aan sy vrou, Ansie, en hul gesin. Ansie moet nog tot Maandag in Bloemfontein bly om administratiewe sake af te handel voordat sy kan terugkeer na die Vaaldriehoek.
Kobus, Ansie en hul gesin is die afgelope maande finansieel sowel as emosioneel deur ‘n baie moeilike tyd. Enigiemand wat dalk nog ‘n bydrae wil maak vir Ansie se verblyf in Bloemfontein of vir die begrafnis, kan steeds van die onderstaande bankbesonderhede gebruik maak.
- Onder: ‘n Berig oor Kobus, wat in 23 Januarie se Vaalweekblad verskyn het, toe almal nog hoop gehad dat hy sou oorleef.
Sasolburgse man (65) in die pyngreep van gangreen
SASOLBURG. – Terwyl ‘n inwoner van die dorp, mnr. Kobus van Dyk (65), die afgelope ses weke elke oomblik teen uitmergelende pyn veg, sit chirurge met hul hande in die hare oor wat hulle nog kan doen om sy pyn te verlig en sy lewe te probeer red.
Albei Kobus se bene is geamputeer weens bloedklonte wat spontaan in sy are gevorm het en bloedtoevoer na sy bene afgesny het. Hy het nou gangreen in die een stompie, wat die ondraaglike pyn veroorsaak.
Kobus se probleme het in 2008 begin toe hy die eerste keer aneurismes (bloedklonte) begin ontwikkel het en sy linkerbeen geamputeer moes word omdat die klonte die bloedvloei na sy been geblokkeer het.
In 2012 het dieselfde probleem in sy regterbeen begin ontwikkel. Sy toestand het mettertyd so versleg dat hy langer as twee maande in ‘n koma was. Aangesien hy nie ‘n mediese fonds het nie, is hy van behandeling in staatshospitale afhanklik. Sy gesin moes ‘n jaar lank heen-en-weer ry terwyl hy in die Johannesburg Algemene Hospitaal behandel is.
Kobus is vroeg in Desember verlede jaar in die Sasolburg-hospitaal opgeneem. Hoewel dit nader aan sy familie was, het hy meer gevorderde behandeling nodig gehad en is later na die Kroonstad-hospitaal oorgeplaas, waar sy regterbeen op 10 Desember geamputeer is. Infeksie het egter in die geamputeerde been se stompie ontstaan, en hy moes na die staatshospitaal in Bloemfontein oorgeplaas word. Hoewel hy volgens sy familie goed en met baie menslikheid versorg word, klaar die infeksie nie op nie. Gangreen het intussen ingetree en die pyn is onbeskryflik. Sy vrou, Ansie, gaan tuis in ‘n gastehuis naby die Bloemfonteinse hospitaal sodat sy soveel as moontlik by Kobus kan wees.
Herhaalde omleidings is reeds voorheen gedoen om bloed vanuit sy lies na die stompie te laat vloei, maar tot dusver met geen blywende sukses nie. Dokters het aanvanklik beplan om Kobus hierdie week te opereer om ‘n omleiding te bewerkstellig met behulp van die slagaar onder sy een arm sodat suurstofryke bloed na sy regterbeen se stompie herlei kan word, maar voorbereidende ondersoeke toon nou dat daar ‘n nuwe krisis is: Daar is reeds bloedklonte in sy hoofslagaar op die vlak van sy derm-are in sy borskas waar dit ingaan in sy buik in.
Op daardie vlak is sy aorta ook reeds erg vernou. Die slagaar na sy linkernier is ook reeds heeltemal toe, in so ‘n mate dat die nier heeltemal verskrompel het. Kobus se chirurg het dié week oop kaarte met hulle gespeel: As hulle opereer, gaan dit ‘n ontsettende hoërisiko prosedure wees wat Kobus dalk nie sal kan oorleef nie. Opereer hulle nie, gaan die sepsis in sy stompie sy lewe eis.
Terwyl die medici gister (Dinsdag) die mediese opsies oorweeg het, het ‘n familielid van die Van Dyks, mnr. Nicky Pretorius, en ander gesinslede begin om geld in te samel om Ansie se uitgawes by die gastehuis te help dek. Hoewel Kobus ‘n klein staatspensioen ontvang, het Ansie geen inkomste nie. Die egpaar se omstandighede is tans werklik benard.
Sakelui of individue wat die egpaar graag wil bystaan, kan ‘n inbetaling in die volgende rekening doen:
Capitec Rekening: 1431110742
Naam: MS AM NEL
Takkode: 470010




