Ongeluk eis 19-jarige
VEREENIGING. – ’n Donker wolk hang oor familie en vriende van Brandon du Plessis (19), nadat hy Sondagoggend noodlottig in ’n motorongeluk beseer is. Voor dié tragedie hom in Karibastraat, Drie Riviere tusen 00:00 en 01:00 op 6 September afgespeel het, het Brandon ’n heerlike aand saam met sy familie gehad toe hulle sy niggie …

VEREENIGING. – ’n Donker wolk hang oor familie en vriende van Brandon du Plessis (19), nadat hy Sondagoggend noodlottig in ’n motorongeluk beseer is.
Voor dié tragedie hom in Karibastraat, Drie Riviere tusen 00:00 en 01:00 op 6 September afgespeel het, het Brandon ’n heerlike aand saam met sy familie gehad toe hulle sy niggie Jeanri Bester, se sestiende verjaardag in Parys gevier het.Volgens Brandon se ma, Juliana het Brandon en ‘n vriend, Zhandré, by vriende gaan kuier toe die ongeluk gebeur het.
Volgens Chitra Bodasing, ‘n woordvoerder van ER24 het Brandon beheer oor die voertuig verloor en van ’n treinbrug wat sowat 20 meter hoog is, afgery. Die voertuig het twee keer in die lug omgeslaan voor dit die grond, met die voorkant eerste, getref het. Toe noodpersoneel van ER24 en Emfuleni Brandweer by die toneel opdaag, was Brandon in die voertuig vasgekeer.
Lewenskake is gebruik om hom uit die wrak te sny, maar noodpersoneel kon weens die graad van sy beserings, niks vir hom doen nie. Volgens André Bronkhorst, takbestuurder van ER24 Vaaldriehoek het hy ernstige hoof,- nek- en borsbeserings opgedoen. Brandon was ’n graad 11-leerling aan die Impak Skool in Vanderbijlpark.
“Hy was ’n opgewekte kind en ’n mense-mens. Hy het ’n pragtige glimlag gehad en almal was lief vir hom,” sê sy ma, Juliana. Hy het ook ’n groot liefde vir skaatsplank ry gehad. Volgens Juliana was hy ’n regte waaghals en sou alles met wiele probeer ry.
“Brandon was lief vir die lewe, veral die buitelewe. Hy was liefdevol en het altyd geglimlag. Ons het ’n wonderlike aand gehad en kon die laaste tydjie wat Brandon by ons was geniet,” sê Heidi Bester, sy tannie.
Brandon se vriend, Zhandré Neethling (20) wat saam met hom in die voertuig was, is in ’n kritieke toestand na Mediclinic Vereeniging geneem vir verdere behandeling.
Hy het onder meer sy been gebreek en moes ’n operasie ondergaan om dit te herstel.
“Hy het nog baie pyn en hoewel hy sy voet kan beweeg, het hy nie gevoel in sy tone nie,” sê Schalk Neethling, Zhandré se pa.
Zhandré is ’n matriekleerling aan HTS Carel de Wet en is tans besig met sy rekordeksamen. “Ons hoop dat hy volkome sal herstel,” sê mnr. Gawie Richter, skoolhoof van HTS Carel de Wet.
* Brandon laat sy pa Bertie, ma Juliana en twee broers, JJ (26) en Morné (11), agter. Hy word op Vrydag 11 September om 13:00 vanuit die NG Kerk Vaalrivier op die Barragepad begrawe.






