Lyell-moord: Familie, vriende én honde treur
Wyle emnr. Eric Lyell se voormalige werknemer verskyn in die hof na die moord
Retha Fitchat
VEREENIGING. – Familie, vriende en sakekennisse van die vermoorde oud-prokureur, mnr. Eric Lyell (68), het verlede Donderdag hul laaste eer aan hom betoon in ‘n stampvol NG Gemeente Drie Riviere-Oos. Mnr. Lyell is vermoedelik Vrydagaand, 11 Januarie, deur sy aanvallers vermoor en sy liggaam in die Vaalrivier naby Vanderbijlpark, gegooi. Sy lyk is Saterdag deur bootvaarders opgemerk, waarna polisieduikers dit uit die water gehaal het. Sy 11 kleinkinders het Donderdag tydens die roudiens roerend van hul oupa afskeid geneem deur elk ‘n kers in die kerk vir hom aan te steek. Ds. Chris Olivier se troosboodskap was ook in ‘n groot mate gerig op dié groepie, wat ‘n hegte band met hul oupa gehad het. “Al het hulle jul oupa se liggaam seer en stukkend gemaak, is sy gees heel. Al is hy fisies nie meer hier nie, leef sy gees voort. Moenie plek gee vir haat nie,” was ds. Olivier se boodskap.
Advokaat Ansie Swanepoel, wat mnr. Lyell meer as 20 jaar as juris geken het, sê die atmos-feer by die roudiens was steeds voelbaar gevul met skok. “Ek het gewens sy aanvallers kon sien watter skade en hartseer hulle sy familie aangedoen het en hoe hulle die hele gemeenskap geruk het met hul daad,” sê sy.
“Die foto’s wat by die roudiens geroteer het en die hartroerende boodskappe in die begrafnisbrief het duidelik die sterk band gewys wat daar tussen Eric, sy kinders en kleinkinders was. Hy was ‘n man wat lief was vir die lewe en geweet het hoe om voluit te leef. In sy werksjare was hy bekend as ‘n tawwe prokureur en ‘n koel, gerekende onderhandelaar wat 100% vir sy kliënte sou veg, maar in sy persoonlike lewe was hy iemand wat sy warm hart 100% oopgemaak het vir sy familie, vriende en mense in nood,” sê sy.
Na die afgelope week se skokgebeure moet wyle mnr. Lyell se gesin nou aan ‘n lewe sonder hul pa en oupa gewoond raak. “Dis nog baie moeilik om alles te verwerk. Ons almal is eintlik nog te verdwaas om aan te gaan,” het mnr. Lyell se seun George, ook ‘n prokureur, Maandag gesê.
Buiten sy naasbestaandes se skok en hartseer, is daar ‘n verdere tragiese nadraai van die moord: Mnr. Lyell se ses hondjies is duidelik getraumatiseer en mis hul baas.
“My pa was baie erg oor sy honde – almal ‘pavement specials’ – en hulle oor hom. Wat nou van hulle gaan word, weet ons nog nie. Ons sal hulle dalk maar laat aanneem maar dit sal hartseer wees om hulle te moet skei,” sê George.
* Wyle mnr. Lyell se voormalige werknemer, Bongani Tau (30), wat na die moord verdwyn het en in Zastron in hegtenis geneem is, het verlede Woensdag in die Vereenigingse landdroshof in verband met die moord verskyn. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel. Tau is steeds in aanhouding en sal weer op 1 Februarie vir ‘n borgaansoek in die hof verskyn. Die polisie volg verdere leidrade op en nog inhegtenisnames word binnekort verwag.




