Solidariteit gaan regstappe doen na Black Land First (BLF) se rassistiese uitspraak oor Hoërskool Driehoek
'Ons gaan teen BLF optree,' sê Dirk Herman, uitvoerende hoof van Solidariteit
VANDERBIJLPARK. – Die vakbond Solidariteit het vanoggend in ‘n persverklaring sy afsku uitgespreek oor die skreiende rassitiese opmerking van BLF se woordvoerder, Lindsay Maasdorp, oor Vrydag se fratsongeluk by die Hoërskool Driehoek.
Solidariteit sê in die verklaring talle van die beseerde kinders se ouers is lede van Solidariteit en ʼn kind van een van Solidariteit se verteenwoordigers is steeds in ʼn ernstige toestand in die hospitaal.
“Die Solidariteit-strukture in die Vaaldriehoek reik op verskeie maniere uit na die slagoffers en hul gesinne. Solidariteit wil sy skok oor die voorval uitspreek en ons betuig ons innige simpatie met die families wat kinders aan die dood afgestaan het. Ons bid vir die spoedige herstel van die kinders wat beseer is. Ons huil saam.”
Die persverklaring lui voorts dat Solidariteit “met totale afsku vervul (is) deur die opmerkings van die BLF se woordvoerder, Lindsay Maasdorp, waarin hy die dood van die wit kinders verwelkom”.
“Verskeie ouers en vriende van die slagoffers het Solidariteit genader om regstappe teen Maasdorp in te stel en ons regspan gaan reeds die naweek begin om hofstukke op te stel. Ons sal by ʼn later geleentheid aankondig namens wie almal ons gaan optree. Die hofstukke sal reeds in die komende week op Maasdorp en die BLF beteken word.
“Ons beplan ʼn tweeledige regsaksie wat sal insluit ʼn crimen injuria-klag en ʼn klag by die gelykheidshof. Wat eersgenoemde betref, sal ons onder meer op die Vicki Momberg-presedent steun. Op grond van die presedent wat die Momberg-saak skep, is ons van mening dat tronkstraf die gepaste straf vir Maasdorp is. Ons beplan ook om ʼn saak by die gelykheidshof aanhangig te maak in die lig van die presedent wat die Penny Sparrow-saak geskep het.
“Maasdorp het ʼn strafregtelike oortreding begaan en ons is van mening dat dit ‘n swaar straf verdien. In die Momberg-saak het landdros Pravina Raghoonandan gesê: “Respek vir mekaar is ononderhandelbaar. Ons is almal mense.” Hierdie opmerking van die landdros is in die besonder op Maasdorp van toepassing.”
Solidariteit het voorheen ʼn klag teen Maasdorp by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien ná soortgelyke opmerkings oor die droogte in die Wes-Kaap.
Solidariteit sê die SAMRK het aangedui dat hulle Maasdorp gaan vervolg.
VAALWEEKBLAD VERSOEK DAT LESERS HULLE DAARVAN WEERHOU OM RASSISTIESE KOMMENTAAR OP DIE BERIG TE LEWER. MOENIE DAT EEN ONNADENKENDE MENS SE UITSPRAKE JOU GEDAGTES EN MENINGS OORNEEM NIE. ‘N OPGEVOEDE, BESKAAFDE MENS DAAL NIE TOT DAARDIE VLAK NIE.



