113 jaar vir moordenaar
VEREENIGING. – ’n Pa van vier is Donderdag in ‘n stampvol hof 113 jaar tronkstraf opgelê nadat hy onder meer skuldig gepleit het op twee aanklagte van moord. Edward Morton (50), het op 14 Februarie vir Wayne Alberts (36) van Boksburg koelbloedig in Primrose vermoor. Hy het hom vasgeboei en ontvoer, waarna hy hom verwurg …
VEREENIGING. – ’n Pa van vier is Donderdag in ‘n stampvol hof 113 jaar tronkstraf opgelê nadat hy onder meer skuldig gepleit het op twee aanklagte van moord.
Edward Morton (50), het op 14 Februarie vir Wayne Alberts (36) van Boksburg koelbloedig in Primrose vermoor. Hy het hom vasgeboei en ontvoer, waarna hy hom verwurg en met ‘n pyp doodgeslaan het. Morton het Alberts se liggaam in ’n veld langs die Kliprivier gelos, voordat hy met sy motor op die vlug geslaan het.
Morton en sy vriendin, Dorinda-Ann Barnard (32), ‘n sekswerker, wou die voertuig glo gebruik om hul beplande rooftog by ’n onderneming in Sunnyside, Pretoria uit te voer. Die onderneming se deure was egter gesluit. Rondom 03:00 op 16 Februarie het Morton en Barnard by ’n vulstasie in Sunnyside gestop waar hulle ’n man gevra het om saam met hulle te ry sodat hulle dwelms kan koop.
Hul voertuig is egter as verdag opgemerk en hulle is deur die polisie afgetrek en op aanklag van die besit van dwelms en ongelisensieerde vuurwapens gearresteer. Al drie het vlugtig in die hof verskyn en die saak is teruggetrek. Daar is nooit deur die polisie gekyk of die voertuig wel aan een van die drie insittendes behoort het nie.
Barnard het daarna die voertuig aan hul prokureur gegee en gesê hy kan dit hou tot hulle terugkom met sy geld, maar hulle het nooit opgedaag nie.
Intussen het Alberts se familie hom as vermis aangemeld en die liggaam van ’n moontlik vermoorde man is gevind en by die polisie aangegee, maar geen konneksie is tussen dié twee gemaak nie. Dit is eers toe ao. Gidion O’Neil en sy jarelange kollega van die Boksburg-noord speurtak die saak op 27 April oorgeneem het saam met privaat speurders wat deur Alberts se familie aangestel is, dat die saak rigting gekry het.
Alberts se lyk het sewe weke by Sebokeng-lykshuis gelê voor hy uitgeken is. Die ondersoekbeamptes en privaat speurders het die saak deeglik ondersoek en later twee en twee bymekaargesit en die moordsaak met die arrestasie-saak in Sunny-side verbind. Hulle was toe op die spoor van Morton en Barnard. Met leidrade van die publiek is Morton in Johannesburg en Barnard in Durban gearresteer.
Terwyl Morton in aanhouding was het hy erken hy het op 18 September 2010 die Franse-sakeman Louis Deneeghere (63) vermoor. Hy het hom by sy huis ingewag, geskiet en sy liggaam ook in ’n veld by die Kliprivier gegooi, waarna hy by sy huis ingebreek en R 44 000 kontant, vuurwapens en ‘n televisie gesteel het.
Streeklanddros Retha Willemse het gedurende die vonnisoplegging gesê die hof het waardering dat Morton sy misdade beken het, maar die geweldige uitwerking wat die moorde op die families van die slagoffers het, is verswarend. Sy het verder gesê dat Morton al hierdie misdade op ‘n ‘koel berekende’ wyse gepleeg het en daarin geslaag het om die spore van sy misdade dood te vee en sodoende die polisie op ’n dwaalspoor te lei. Morton het reeds 13 vorige veroordelings. Hy is in 2005 ná 20 jaar tronkstraf weens ‘n bankrooftog vrygelaat.
Morton is twee lewenslange vonnisse weens moord opgelê. Hy is ook op aanklag van ontvoering (agt jaar), twee rooftogte (15 jaar elk), huisbraak (agt jaar), twee aanklagte van die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen (sewe jaar elk) en weens die onwettige besit van ammunisie (drie jaar) gevonnis. Hy het voor sy vonnisoplegging aan Alberts se familie om verskoning gevra. “Ek is jammer. Ek is daarvoor verantwoordelik dat julle geliefdes verloor het.” Die emosies het egter hoog geloop onder Alberts se vrou, Charlene en sy ma, Christine. Alberts se ma, Christine van Lingen sê dit het die familie baie uit die sak gejaag om die saak op te los, maar sy is bly geregtigheid het geseëvier.
“Ek en my seun het aldag en heeldag kontak met mekaar gehad. Hy was die wonderlikste mens.”
Alberts se vrou Charlene sê sy is dankbaar hy is agter tralies sodat hy nie nog ’n familie kan vernietig nie. Alberts en sy vrou het drie kinders, onderskeidelik vyf, 10 en 15.
Luidens verslae het Alberts se familie bykans R500 000 spandeer op privaat speurders.
Barnard sal op 5 November in die Vereeniging streekhof op aanklag as begunstigde van Morton se rooftogte verskyn. Sy is tans in aanhouding in Johannesburg se vrouegevangenis

Edward Morton
se rooftogte.

in ‘n veld langs die Kliprivier gegooi is.




