Local newsNationalNews

Skool groet geliefde wiskunde-leermeester

Met die afsterwe van mnr. Jan Coetzee (52) het die Hoërskool Sasolburg nie net ‘n uitmuntende wiskundeonderwyser verloor nie, maar ook ‘n geliefde leermeester wat die skoolkinders op vele ander terreine van hul lewens geïnspireer het.

Retha Fitchat

SASOLBURG. –  Hoewel mnr. Jan Coetzee slegs vyf jaar ‘n wiskundeonderwyser by die Hoërskool Sasolburg was, het sy passie en geesdrif in dié kort tyd ‘n groot liefde vir die vak by sy leerlinge vasgelê.
Jan het op 27 Januarie onverwags in die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein weens ‘n aangebore harttoestand gesterf, nadat hy vroeër die oggend siek geword en per ambulans vanaf Sasolburg daarheen vervoer is.
Die talle boodskappe van medelye van ouers, onderwysers en leerlinge op die skool se Facebook-blad getuig van die diep spore wat dié onderwyser, self ‘n oudleerling van Hoërskool Sasolburg, in die onderwys getrap het.
Mnr. Kalol Muller, ‘n voormalige hoof van Hoërskool Sasolburg, sê Jan se dood is ‘n gevoelige verlies vir familie, vriende en die skool in geheel. “Ons sal Jan onthou as die ou wat altyd bereid was om die ekstra myl te stap,” sê Muller.
“Hy was ‘n ongelooflike wiskundeonderwyser met ‘n passie vir die vak, wat hy met groot sukses aan die kinders oorgedra het,” sê Jan se suster, Rina, self departementshoof in Engels aan Hoërskool Sasolburg.
Hoërskool Sasolburg se 2018-matrieks het in die afgelope eindeksamen sewe onderskeidings opgelewer, waarvoor Jan en sy kollegas, Annelise Locke en Chantelle van Rensburg, toekennings van die Fezile Dabi-distrik ontvang het as die skool met die beste wiskunde-uitslae.
Jan het aan Laerskool Noordhoek in Vanderbijlpark skoolgegaan, waar sy ma, wyle mev. Ria Coetzee, jare lank ‘n onderwyseres was. Hy het sy laerskoolloopbaan aan Fonteine Primêre Skool in Sasolburg voltooi. Jan het sy matriek aan Hoërskool Sasolburg behaal, waar sy ma vanaf 1983 tot 2003 ‘n bekende geskiedenisonderwyseres was. Na hoërskool het Jan sy weermagopleidingvoltooi en later ‘n BSc-graad in rekenaarwetenskap en wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.
Hy het onder andere by die groot rekenaartegnologie-korporasie Oracle en in konstruksie gewerk voordat hy eers op 47-jarige ouderdom tot die onderwys toegetree het.
Sy pa, mnr. Ferdie Coetzee, het op 43-jarige ouderdom aan sy hart gesterf toe Jan sowat 10 jaar oud was. Hoewel Jan op 26 en weer op 50 jaar hartomleidings weens ‘n soortgelyke aangebore hartkwaal ondergaan het, was hy die afgelope tyd baie gesond en het die drie stelle trappe na sy klas ‘n paar keer per dag met gemak opgedraf. Hy was fanaties oor krieket en was die afgelope jare ook die skool se kriekethoof. Hy het self ook een van die spanne afgerig, sê Rina.
Jan, wat geskei was, het saam met Rina in haar huis in Sasolburg gewoon. “Ek het altyd sy besorgdheid oor my waardeer. Hy het ‘n passie vir diere gehad, veral honde en katte, en dit is hoe ek die graagste aan hom terugdink: Met ‘n basset of worshond op sy skoot voor die TV,” sê sy suster.
‘n Roudiens is Vrydag, 1 Februarie, by die Gereformeerde Kerk in Sasolburg gehou. Jan word buiten Rina en hul broer Hennie deur ‘n oom en tante, neefs en niggies oorleef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button