Hoë spoed jaagtog deur dorp – helde stamp inbrekers van die pad af
Hoë spoed jaagtog deur dorp - heroes trek drie inbrekers vas
JANNIE DU PLESSIS – VAALWEEKBLAD
VANDERBIJLPARK. – Drie inbrekers het vanmiddag (5 Maart) hul rieme styf vasgeloop deur die onbaatsugtige optrede van drie helde wat sonder om te skroom die vlugtende diewe vasgetrek het.
Twee lede van die Vaal Response Unit (VRU), wat met hul privaat motor diens doen aan die gemeenskap om ons dorp veiliger te maak, het die diewe in ‘n hoëspoed jaagtog op ‘n draai in Belladonna straat in Flora Gardens van die pad afgestamp. Twee van die diewe het met ‘n gesteelde Ford Ecosport, met vervalste nommerplate, teen ‘n muur gebots en is daarna gearresteer. Net voor die draai het ‘n lid van A-SEC sekuriteit sy wapen op die aankomende voertuig gerig. Die derde inbreker wat uit die voertuig wou spring en weghardloop, het uit die voertuig geval toe hulle die spoedwal voor die draai tref en is ook gearresteer.
Daarna was lede van die CW buurtwag, DAI Sekuriteit, JH Tactical Response Team, EMS Sekuriteit, Rescom, insleepdienste en die polisie vinnig op die toneel. Sommige van hulle was ook in die jaag- en soektog betrokke. Gauteng EMS was ook op die toneel aangesien een van die rowers so bietjie asma probleme ondervind het.
Die diewe was besig om net voor 13:00 by ‘n woning in Elliotstraat, SE6, in te breek toe hulle deur die twee lede van VRU verras is. Hulle is 13:12 vasgetrek. Die egpaar wat met hul voertuig die gewaagde jaagtog teen (160km/h op sommige plekke) en die afstamp van die inbrekers se voertuig uitgevoer het, het groot skade aan hul voertuig gekry en met geen versekering is daar ‘n noodroep aan die gemeenskap om moontlik te kan help.
Dag en nag is daar lede uit die gemeenskap asook die polisie wat ons strate deur onbaatsugtige diens probeer om Vanderbijlpark en omgewing ‘n veiliger en beter plek te maak. Baie van hulle doen dit op hul eie koste.
‘n Forensiese deskundige het vanmiddag die toneel ondersoek. Al drie inbrekers is gearresteer. Die saak word deur die polisie ondersoek.
LEES DIE VOLLEDIGE BERIG IN VAALWEEKBLAD – WOENSDAG 13 MAART

















