Kuikenmoord
Eerskomende Saterdag in Meyerton gaan die kalk spat wanneer die eerste krieketspanne van die Hoërskool Transvalia en die Heidelberg Volkskool mekaar in ’n Noordvaal-uitspeelwedstryd aandurf. Die wenner sal die Vaaldriehoek in die gesogte Noordvaal-kompetisie verteenwoordig. Altwee spanne is goed op dreef en spog met verskeie Vaaldriehoekspelers in hulle geledere wat eersdaags aan die Gauteng-proewe gaan …
Eerskomende Saterdag in Meyerton gaan die kalk spat wanneer die eerste krieketspanne van die Hoërskool Transvalia en die Heidelberg Volkskool mekaar in ’n Noordvaal-uitspeelwedstryd aandurf.
Die wenner sal die Vaaldriehoek in die gesogte Noordvaal-kompetisie verteenwoordig. Altwee spanne is goed op dreef en spog met verskeie Vaaldriehoekspelers in hulle geledere wat eersdaags aan die Gauteng-proewe gaan deelneem.
Volkies het vier (Henri van Zyl, Wian Britz, Henro Pike en Keegan Jansen van Vuuren) en Transvalia het drie Vaaldriehoek o.19-spelers (Christiaan Coetzee, Wernich Human en Walter Berrington) opgelewer. Dié spelers gaan van 2 tot 4 Oktober aan die Gauteng-proewe deelneem.
Valia is die seisoen nog nie werklik getoets nie en sy gedugte kolflys gaan Volkies laat bloedsweet.
Wat afronding as ’n geheel betref is Volkies waarskynlik beter daaraan toe. Een ding is verseker, dié kragmeting gaan vir meer vuurwerk as ’n Chinese Nuwejaar-feesviering sorg.
Valia het die afgelope naweek kuikenmoord gepleeg toe hy General Smuts met 9 paaltjies geklop het.
Xander van der Walt (7-20-7) het die Smutsies in ’n web vasgedraai en was grootliks daarvoor verantwoordelik dat die kragmeting voor middagete verby was. Valia het Smuts in die 14de beurt vir ’n skamele 48 lopies uitgeboul en daarna slegs 43 aflewerings nodig gehad om die beskeie teiken verby te steek.
In die ander Groep B-wedstryd wat die naweek plaasgevind het, het Vereeniging Gimnasium vir die Hoërskool Dr. Malan in ’n naelbyter met drie paaltjies geklop.
Malan het 222/10 danksy goeie bydraes met die kolf deur CJ Kruger (65) en Armand Small (48) aangeteken.
Vir Gimnasium het Danie Jansen van Vuuren (9-4-54) geskitter met die bal. Gimnasium se lopiejaagtog was goed op dreef voordat Drikus van Vuuren (9-3-26) twee keer toegeslaan het. Emile Nagel (57) en Nicholas Coetzee (36) moes hard werk om ’n vennootskap te bou. Dokkies se kaptein en voorslag wegbreekbouler, Jason Herbst, het die handrem met suinige boulwerk opgetrek. Na die Nagel/Coetzee-vennootskap gebreek is, het die Dokkies nog twee paaltjies laat kantel, maar Edwin Bronkhorst (47*) het die Gimmies-wa deur die drif getrek.
Die bepalings vir eerskomende naweek is: Valia vs Volkies (veld: Dr. Malan); Gimmies (t) vs Driehoek; Affies (t) vs Sasol, Smuts (t) vs Overvaal; Dr. Malan (loslootjie).
Die Vaaldriehoek o.15-krieketspan wat van 2-4 Oktober aan die Gauteng-proewe gaan deelneem, is:
Naeem Haseen (Phoenix), Zian de Jager (Valia), Driaan van der Berg (Transvalia), Heinrich Kok (Valia), Shaun Christie (Valia), Franco Pienaar (Valia), FP van Kradenburg (Valia), Sibosisu Sithole (Smuts), George Banisi (Smuts), Amogehang Sima (Smuts), Marco Boschieter (Driehoek), Rynhardt Bezuidenhout (Gimmies) en Pieter Goosen (Gimmies).
Die Vaaldriehoek o.19-krieketspan wat aan die Gauteng-proewe gaan deelneem, is: Christiaan Coetzee (Valia), Wernich Human (Valia), Walter Berrington (Valia), Marius Stevens (Driehoek), Hugo Terblanche (Driehoek), Lebo Nhake (Smuts), Luyando Gqweka (Smuts), Raees Rsool (Roshnee Islamic), Samson Neoyofane (Dr. Malan), Henri van Zyl (Volkies), Wian Britz (Volkies), Henro Pike (Volkies) en Keegan Jansen van Vuuren (Volkies).
*In die o.15-kragemeting tussen Valia en Volkies het die vonke gespat met Valia wat uiteindelik met 284 lopies gewen het. Valia was vroeg in die knyp met die telling op 22/3 maar Zian de Jager, Driaan van der Berg en Franco Pienaar het hulle klas gewys. Driaan het 198 lopies van 91 aflewerings aangeteken en Franco (102, 103b) en Zian (36) het gesorg dat Valia 405/10 aangeteken het. De Jager het (9-4-31) puik geboul en gesorg dat Volkies vir 121/10 in die 31ste beurt uitgeknikker is.




