Hoërskool Driehoek: BLF bly by rassistiese opmerkings
Hoërskool Driehoek: BLF bly by rassistiese opmerkings
BRON: Solidariteit.co.za
Solidariteit het Maandag 25 Maart bevestig dat hy opponerende stukke van die Black First Land First (BLF) se president, Andile Mngxitama, ontvang het na aanleiding van die klag wat Solidariteit op 14 Februarie 2019 by die gelykheidshof teen dié party ingedien het.
Dié klag volg nadat die BLF-woordvoerder, Lindsay Maasdorp, die dood van vier leerlinge in die Driehoek-skoolramp gevier het en in effek gesê het dat die tragedie ʼn gepaste straf is vir wit mense en hul kinders.
Volgens Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, voer die BLF in sy eedsverklaring aan dat dit redelik van swart persone sal wees om nie empatie vir wit mense se pyn te hê nie. Mngxitama sê voorts in die verklaring dat Lindsay Maasdorp se uitlating in die lig gesien moet word van die pyn wat swart persone daagliks beleef as gevolg van die voordeel wat elke wit persoon op grond van kolonialisme ontvang het.
Hy bevestig verder dat swart mense nie rassiste kan wees nie, en dat die aansoek derhalwe nie sal slaag nie. “Die feit dat hy dit sê bevestig net hoe uiters rassisties sy uitlatings eintlik is en dat dit met die volle mag van die gereg veroordeel moet word,” het Van der Bijl gesê.
Van der Bijl voer aan dat die eedsverklaring vir die BLF ʼn gulde geleentheid gebied het om die ouers van die slagoffers van die Driehoek-skoolramp om verskoning te vra vir sy uitlatings, maar die party het eerder van die geleentheid gebruik gemaak om verskonings te soek oor hoekom hy rassisties kan en mag wees. “Alhoewel ons vryheid van spraak ondersteun, het die BLF heeltemal te ver gegaan en is daar min twyfel in my gemoed dat hulle nié die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse publiek se siening weerspieël nie,” het Van der Bijl saamgevat.
Lees die oorpronlike artikel hier



