Twee weke sonder krag – maar sonder kos die ergste
Twee weke sonder krag - maar sonder kos die ergste
VAALWEEKBLAD BERIG 27 Maart 2019
VANDERBIJLPARK. – Inwoners van sekere woogebiede in Vanderbijlpark is reeds vir twee weke sonder krag. Dit volg nadat substasie 203 in Curie-boulevard op 12 Maart aan die brand geslaan en groot skade tot gevolg gehad het.
Herstelwerk het egter gesloer weens papierwerk wat in plek moes kom en materiaal en ‘n transformator wat eers afgelewer moes word. Intussen is groot dele van die dorp se krag reeds herstel, maar sekere huishoudings in CW4, 5 en 6 is die hardste getref en is steeds sonder krag.
Daar is tans ‘n kragopwekker wat hulle om die beurt van krag voorsien. So erg het die situasie nou geword dat daar deur die gemeenskap vir die huishoudings wat nie krag het nie, kos geskenk moet word.
Volgens Gert van Rooyen van DotCom, die kontrakteurs vir die munisipaliteit, behoort hulle as alles vlot verloop, teen Vrydag, 29 Maart die krag in dié gebiede aan te sit. Daarna sal daar gekyk word na al die kleiner probleme soos groen kragbokse en individuele kragprobleme.
Intussen was daar teen Maandag, 25 Maart reeds sowat 1.7km van die 2.2km sloot gegrawe om die nuwe kabel vanaf substasie 203 in Curie-boulevard na die watertoring aan te lê om dit en die woongebiede wat daardeur geraak is, van krag te voorsien. Volgens van Rooyen moet Sasol egter vir ‘n sekere gedeelte van die sloot wat gegrawe word, teenwoordig wees omdat daar ‘n gaslyn van Sasol ondergronds is.
Die watertoring se pompe voorsien tans water deur kragopwekkers wat 24 uur werk om water aan die dorp te voorsien.
Burgemeester Gift Moerane, wat die substasie besoek het, was geskok toe hy sien dat die vordering baie stadig is, nadat hy by ‘n vorige geleentheid die herstel van die kragtoevoer as ‘n noodsituasie beskou het.
Moerane het ook die munisipale bestuurder opdrag gegee om die saak te ondersoek omdat hy vermoed die aangeleentheid is nie goed bestuur nie.
Moerane het ook vir die inwoners en eienaars van besighede wat die afgelope weke nie krag het nie, om verskoning gevra.
DA raadslid Peter Verbeek het Vrydag, 22 Maart aan die betogers voor die substasie verduidelik watter prosedure hulle kan volg om ‘n eis teen die munisipaliteit in te stel vir kos wat sleg geword het en ongerief weens die kragsituasie.
*‘n Video hiervan is op vaalweekblad.com se webblad te sien.




