NewsNews

Mimi Fourie Hof is ‘n tikkende tydbom

VEREENIGING. – Die verval van Mimi Fourie Hof in Marklaan 27 is ‘n groot bron tot kommer. Dit is ‘n tikkende tydbom wat wag om te ontplof. Volgens Dalene Venter, DA-raadslid vir Drie Riviere, is die haglike omstandighede  waarin pensioenarisse, bejaardes en gestremdes moet woon lewensgevaarlik en ‘n gesondheidsrisiko. Die Emfuleni Munisipaliteit is verantwoordelik vir …

VEREENIGING. – Die verval van Mimi Fourie Hof in Marklaan 27 is ‘n groot bron tot kommer. Dit is ‘n tikkende tydbom wat wag om te ontplof.

Volgens Dalene Venter, DA-raadslid vir Drie Riviere, is die haglike omstandighede  waarin pensioenarisse, bejaardes en gestremdes moet woon lewensgevaarlik en ‘n gesondheidsrisiko.
Die Emfuleni Munisipaliteit is verantwoordelik vir die instandhouding van die gebou en woonstelle, maar volgens inwoners word daar geen instandhouding gedoen nie. Riool wat in toilette opstoot, dakke wat lek en balkonne se sement wat verbrokkel en afval, is maar net die oortjies van die seekoei.
“Die grootse probleme waarmee ons sukkel is rotte, vlieë en kokkerotte omdat die vullis nie verwyder word nie. Daar word net leë beloftes gemaak.
Die riool wat opborrel in die toilette, wasbakke en baddens is ‘n gesondheidsrisiko,” sê die 71-jarige Frans van Rooyen, wat al nege jaar in Mimi Fourie Hof woon.
Vier woonstelle (108, 136, 139 en 140) is reeds gesluit nadat dit onveilig en onbewoonbaar verklaar is. Slegs een van die gebou se twee huisbakke – wat veronderstel is om die 140 woonstelle te bedien – is in ‘n half werkende toestand.
Volgens Johan Celliers, een van die inwoners, is hy baie bekommerd oor die stand van sake.
“Die maatskappy wat na die huisbakke kom kyk het, het gesê dit gaan ‘n aardige bedrag kos om dit in ‘n veilige en werkende toestand te kry. Een van die asmalyers is selfs te bang om op die balkon te gaan om asem te skep.
Die beheerkamer vir die huisbakke se kragbokse is kaal gesteel.
Benewens gebreekte vensters en geen brandblussers, is die krake en verbrokkeling van oorhoofse strukture en mure se sement so ernstig dat die geroeste staalversterkings oral sigbaar is.
Hoewel Mini Fourie Hof nie in Venter se wyk val nie, is sy deur inwoners genader om in te gryp. Volgens haar het sy reeds vir ‘n vergadering met die munisipale bestuurder en burgemeester gevra. Volgens Venter is Mimi Fourie Hof jare gelede gebou om behuising vir enkelvroue te verskaf en dat daar ‘n trust gestig is om vir die instandhouding van die gebou te sorg.
“Ons wil graag weet of die trust nog bestaan,” sê Venter.
Volgens Venter is gerugte van ‘n uitsetting van die inwoners nie waar nie.
* Stanley Gaba, munisipale woordvoerder vir Emfuleni, is om kommentaar genader, maar het teen Vaalweekblad se druktyd nog nie op ons navrae gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button